Nuus 07:00
BULLETIN 9 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakeleiers vra onmiddellike optrede om die Maputo-deurgang te bestendig te midde van onrus
# Erge donderstorms word die naweek in KwaZulu-Natal verwag
# En, rugby: Die Bokke en die Skotte sluit ‘n naweek vol toetsrugby af
# Die Suid-Afrikaanse Vragversendersvereniging waarsku die voortslepende konflik in Mosambiek veroorsaak aansienlike ontwrigting van oorgrens-handelsroetes, veral die Maputo-deurgang. Die vereniging berig skade aan infrastruktuur en tydelike sluitings van die grens ontwrig logistiek, wat kritieke aanbodkettings vertraag wat Suid-Afrika, Zimbabwe en ander streeksmarkte bedien. ‘n Woordvoerder van die vereniging, Barbara Mommen, versoek die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om te bemiddel om bestendigheid teweeg te bring:
Intussen sê Human Rights Watch minstens 30 mense is in geweld in Mosambiek dood na bykans drie weke van betogings oor ‘n omstrede presidentsverkiesing. Dit sluit nie Donderdag se geweld in nie toe polisie en soldate duisende betogers in die hoofstad, Maputo, uiteengejaag het. Die suider-Afrikaanse land word deur geweld geteister sedert die Frelimo-party, wat bykans 50 jaar aan bewind is, die verkiesing op 9 Oktober met meer as 70-persent van die stemme gewen het.
Nog nuus uit die land is dat die Mosambiekse konglomeraat, RGS, Tongaat Hulett se goedgekeurde sakereddingsplan teenstaan. Die maatskappy beweer dit is onwettig en hy het glo ‘n beter aanbod ontvang. RGS bevraagteken die deursigtigheid van die benadering van die Vision-konsortium om bates te verkoop en bestempel dit as ʼn privaat likwidasie. RGS het voorheen ‘n vals befondsingsbrief voorgelê maar beskryf dit as ʼn fout deur junior personeel. Volgens News24 hou RGS vol hulle kan ruim befondsing verskaf en wag op ‘n hofsitting op 28 November om ʼn heroorweging van hulle plan voor te lê.
# Erge donderstorms word hierdie naweek oor KwaZulu-Natal verwag, met swaar reën, hael en sterk wind. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak twee-waarskuwing vir vandag uitgereik, gevolg deur ‘n vlak vier-waarskuwing vir môre. Gebiede soos eThekwini, Ladysmith, Hluhluwe en Newcastle verkeer in die grootste gevaar, aangesien die storms oorstromings en skade aan infrastruktuur kan veroorsaak. Die woordvoerder van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, sê rampbestuurspanne hou die situasie fyn dop:
# En, rugby: Die Springbokke en Skotland gaan môreaand ‘n naweek vol toetsrugby in Edinburgh afsluit. Engeland en Australië speel vandag op Twickenham in Londen, en daarna draf Italië en Argentinië op die veld in Udine. Frankryk en Japan meet vanaand kragte op die Stade de France in Parys. Môre se eerste kragmeting is tussen Wallis en Fidji op die Principality-stadion in Cardiff. Die Bokke en die Skotte pak mekaar net na ses op Murrayfield.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….