Nuus 07:00
BULLETIN 13 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die ANC is nie gereed vir ‘n egte, beredeneerde en oplossingsgerigte dialoog nie
# Die vleisbedryf wil verdelingsooreenkomste hê om uitvoere te beskerm
# En krieket: Die T20-reeks tussen Suid-Afrika en Australië word Saterdag beslis
# Die Vryheidsfront Plus sê dis baie duidelik dat die ANC as die grootste party in die regering van nasionale eenheid, nie gereed is om ‘n ware, beredeneerde en oplossing-gerigte dialoog te voer nie. Die party het onttrek aan die naweek se nasionale konvensie wat die agenda vir die nasionale dialoog wil saamstel. Die VF Plus sê dis dalk tyd vir ʼn eerlike nasionale dialoog sonder die ANC waarby almal betrokke is wat ernstig is oor vordering en die land se beste belange op die hart dra.
# Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders sê dringende verdelingsooreenkomste is nodig om Suid-Afrika se beesvleisuitvoere tydens siekte-uitbrekings te beskerm. Die vleisbedryfvereniging sê sulke ooreenkomste met handelsvennote sal ‘n volledige uitvoerverbod voorkom wanneer siektes soos bek-en-klouseer uitbreek, met beperkings wat slegs geaffekteerde gebiede sal raak. Die vereniging se uitvoerende hoof, Imameleng Mothebe, sê sterker gesondheidsbeheer en beter samewerking tussen die regering en die bedryf is die sleutel tot die sektor se groei:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê instellings vir tegniese beroepsonderwys en -opleiding se studentetoelaes word nie betaal in rekeninge wat nie bygewerk is nie. Die skema loop al jare lank deur onder omstredenheid en studente kla dat hulle verblyf- en leeftoelaes nie betyds betaal word nie. Die skema se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê hulle besef die uitwerking van vertragings omdat studente ten volle van die toelae afhanklik is vir hul lewenskoste:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, en die stadsbestuurder, Johann Mettler, kan moontlik tronkstraf kry as hulle nie die stad se varsproduktemark herstel nie. Die Hooggeregshof in Pretoria het hulle 30 dae gegee om ‘n plan te beraam om dienste soos sekuriteit en rommelverwydering te verbeter, en om te verduidelik hoe 18-miljoen-rand vir opgradering aangewend is. Die hof het Tshwane in minagting bevind omdat hy versuim het om ’n bevel van 2022 na te kom en het Moya en Mettler se tronkstraf vir een jaar opgeskort, hangende nakoming. Die Instituut van Markagente het die stad voor die hof gedaag.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku openbare gesondheid in Gaza is rampspoedig met hospitale wat ver bo hul vermoë moet werk. Minder as 50-persent hospitale en 38-persent basiese gesondheidsorgsentrums in Gaza is net gedeeltelik funksioneel. Sedert die begin van 2025 is 148 mense, insluitend 49 kinders, volgens berigte dood aan wanvoeding. Dokter Rik Peeperkorn van die WGO sê toegang vir internasionale mediese spanne en voorrade is steeds ʼn probleem:
# Krieket: Die beslissende T20 tussen Suid-Afrika en Australië word Saterdag in Cairns gespeel nadat Dewald Brevis gister in Darwin die gasheer feitlik man-alleen verslaan het. Hy het ‘n blitsige onoorwonne 125 van net 56 balle gemoker – die hoogste T20-telling nog vir ‘n Protea-kolwer – en die besoekers het ‘n reuse-218 vir sewe behaal. Brevis het daarna twee vangskote benut terwyl Corbin Bosch en Kwena Maphaka elk drie paaltjies geneem het, en die Aussies is uitgeboul vir 165. Australië het die eerste wedstryd met 17 lopies gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-503-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….