Nuus 07:00
BULLETIN 8 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gee sy insette oor verkiesingshervorming
# BOSA sê Eskom se tariefverhoging sal werkskepping kniehalter
# En meer as 14-duisend mense word ontruim tydens ‘n veldbrand in Kalifornië
# Die ANC het sy verbintenis herbevestig tot ‘n inklusiewe demokrasie in sy voorlegging aan die verkiesingstelsel-paneel, waarin hy die huidige proporsionele verteenwoordigingstelsel steun. Die party sê die model verseker regverdige verteenwoordiging deur uiteenlopende groepe, insluitend vroue, jongmense, mense met gestremdhede en die LGBTQI-plus-gemeenskap. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het aan die media gesê die party beloof om voorkeur te gee aan toerekenbaarheid en deursigtigheid in enige wysigings en steun die beginsel dat die mense sal regeer:
# Build One South Africa sê Eskom se voorgestelde tariefverhoging sal verdere ekonomiese druk op Suid-Afrikaners plaas en veral lae-inkomstehuishoudings, klein sakeondernemings en landelike gebiede raak. Eskom versoek toelaatbare inkomste van 446-miljard-rand vir 2025/2026, 495-miljard-rand vir 2026/2027, en 537-miljard-rand vir 2027/2028. BOSA sê hoër elektrisiteitskoste gaan winsgrense verklein, beleggers ontmoedig en werkskepping kniehalter. Hy sê die kragverskaffer moet geskiedkundige ondoeltreffendheid aanspreek deur hom te verbind tot volle deursigtigheid oor die toekenning van fondse wat deur tariefverhogings ingevorder word.
Eskom sê intussen hy het ‘n kennisgewing van voorneme uitgereik om kragvoorsiening aan die Stad Johannesburg en City Power op sekere vasgestelde tye te onderbreek. Die metro skuld die kragvoorsiener tans 4,9-miljard-rand wat nie die huidige rekening van 1,4-miljard-rand insluit wat die einde van die maand betaal moet word nie. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die metro se wanbetaling dra by tot die stygende munisipale skuld wat sedert die einde van September op 90-miljard-rand staan:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ʼn deursoek-en-beslagleggingsoperasie uitgevoer op die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes. Die munisipaliteit word ondersoek weens bewerings van wanadministrasie wat verband hou met die verkryging van goedere en dienste om ʼn vloedlynkanaal langs die N12 provinsiale pad te bou. Die eenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die operasie was ʼn laaste poging om toegang te kry tot dokumente wat hulle vir die saak nodig het.
# ʼn Verwoestende veldbrand woed in Ventura-distrik in Suid-Kalifornië. Meer as 14-duisend inwoners moes hul huise ontruim terwyl stormsterk winde en droë toestande die vlamme aanblaas. Sowat drie-duisend-500 wonings en sakeondernemings word bedreig. Rooivlagwaarskuwings teen gevaarlike weerstoestande raak meer as 18-miljoen mense, insluitend in die Los Angeles-area. Ventura-distrik se brandweerkaptein, Trevor Johnson, sê meer as 800 brandbestryders en 58 brandweervoertuie is ontplooi:
# Motorsport: Formule Een-renjaers het die beheerliggaam gevra om hulle soos grootmense te behandel. Dit volg nadat Red Bull se Nederlandse bestuurder, Max Verstappen, en Ferrari se renjaer, Charles Leclerc van Monaco, gestraf is oor kru taal. Die Grand Prix-bestuurdersvereniging beskryf in ‘n ope brief aan die FIA die verskil tussen vloekwoorde wat bedoel is om ander te beledig, en meer informele gevloek. Die organisasie sê ook die media hoef nie sy lede opdragte te gee oor onbelangrike sake soos die dra van juweliersware of onderklere nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-956-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-701-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….