Nuus 07:00
BULLETIN 5 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering koördineer ondersoeke na die uitbreking van siektes wat deur voedsel oorgedra word
# Business Leadership SA vra vir ‘n duideliker mededingingsbeleid
# En die gesinne van die ingenieurs wat aangehou word betoog by die Afrika-energieweek
# Die regering sê hy koördineer omvattende ondersoeke na die uitbreking van siektes wat deur voedsel veroorsaak word in Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die Gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, het verlede week bekendgemaak organofosfaat, wat in plaagdoders gebruik word, het verlede maand ses kinders in Soweto se dood veroorsaak. Hulle het volgens berigte ‘n pakkie skyfies gedeel wat hulle by ʼn plaaslike spazawinkel gekoop het. Gavin Sadler van die regering sê hulle voer ʼn openbare veldtog om mense op te voed en bewus te maak van voedselveiligheid:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum vra die regering intussen om ‘n noodtoestand af te kondig en alle spaza-winkels tydelik te sluit om kinders te beskerm en lewens te red te midde van die krisis weens besmette voedsel. Hulle eis ‘n nuwe lisensiëringsproses om strenger beheer te verseker, veral vir ongedokumenteerde winkeleienaars. Die president van die forum, Marothi Mashashane, kritiseer die regering se gebrek aan proaktiewe maatreëls en sê hulle reageer gewoonlik eers nadat tragedies plaasgevind het:
# Business Leadership South Africa vra ‘n duideliker mededingingsbeleid nadat die Mededingingstribunaal Vodacom se transaksie ter waarde van 14-miljard-rand geblok het om in te koop by Maziv, Vumatel se moedermaatskappy. BLSA waarsku hierdie besluit kan die telekommunikasiesektor benadeel en ‘n beplande tien-miljard-rand belegging in veselnetwerke vir onderbediende gebiede vertraag. Die organisasie ondersteun inklusiewe groei, maar voer aan die mededingingsreëls moet ware mededinging bevorder en beleggings lok wat tot voordeel is van verbruikers en die ekonomie.
# Die EFF in Gauteng het die uitslag van die provinsiale Onderwysdepartement se ondersoek na bewerings van rassisme by Pretoria High School for Girls versigtig verwelkom. Twaalf leerders, insluitend van die leerlingraad, is in Julie geskors ná bewerings van rassisme op ʼn WhatsApp-groep. Hulle is egter later van alle blaam onthef. Die ondersoek het bevind die skoolhoof, Phillipa Erasmus, en haar adjunkhoof is skuldig aan wangedrag omdat hulle na bewering nie opgetree het teen klagtes en afknouery nie. EFF-woordvoerder Dumisani Baleni sê hulle verdra nie rassisme nie:
# Die gesinne van die Suid-Afrikaanse ingenieurs Frik Potgieter en Peter Huxham, wat sedert Februarie verlede jaar in Ekwatoriaal-Guinee aangehou word op dwelmverwante aanklagte, gaan ‘n vreedsame betoging hou by die Afrika-energieweek in Kaapstad. Hulle vra die land se afgevaardigdes om die twee te begenadig, en die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, om hulle vrylating te bewerkstellig. Die Verenigde Nasies beskou hulle aanhouding as onwettig en die gesinne vra dringende diplomatieke ingryping deur die Parlement.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad se Eendagwedstryd-kampioenskap vir Vroue is tot elf spanne uitgebrei nadat Zimbabwe ook ingesluit is. Dit volg nadat Bangladesj en Ierland aangesluit het in aanloop tot volgende Oktober se Eendagwedstryd-wêreldbeker in Indië. Zimbabwe se insluiting beteken alle volle lede van die IKR is deel van die kampioenskap, behalwe Afghanistan wat nie ʼn vrouespan het nie. Met die uitbreiding van die Vroue-kampioenskap sal elke land in ʼn driejaar-siklus teen vier spanne tuis en vier spanne weg speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-958-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-734-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….