Nuus 07:00
BULLETIN 4 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê Suid-Afrika se Amerikaanse buitelandse beleid word nie bepaal deur wie aan bewind is nie
# Die omstrede onderwêreldse sakeman Mark Lifman is in George doodgeskiet
# En die verslag oor rassisme by Pretoria High School for Girls word vandag vrygestel
# Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, sê die beleid waarop Suid-Afrika en Amerika se verhouding gebou is, hang nie af van wie in die Withuis is nie, maar van nasionale belange. Amerikaners gaan môre na die stembus om in die wedloop tussen visepresident Kamala Harris en oudpresident Donald Trump te stem. Die ANC se subkomitee oor internasionale betrekkinge het die media gister na ‘n tweedaagse beraad toegespreek. Mokonyane sê die land se belang is om verhoudinge te bou wat goed is vir Suid-Afrika:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê hy sien steeds gevaartekens vir die toekoms van Suid-Afrika se ekonomie. Bennie van Zyl van die organisasie sê in plaas van ‘n fokus op die opvoeding en bemagtiging van mense oor hoe om rykdom te skep en ‘n verantwoordelike rol in die ekonomie te speel, maak die regering hom skuldig aan emosionele, ideologiese praktyke wat Suid-Afrika se ekonomiese toekoms in gevaar stel:
# Die Wes-Kaapse polisie ondersoek die omstandighede rondom die vermeende sluipmoord op die Kaapse bendebaas en sakeman, Mark Lifman. Die 57-jarige Lifman is Sondag buite die Tuinroete-winkelsentrum in George doodgeskiet. Hy sou vandag in die Brian Wainstein-moordsaak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof verskyn. Hy en sy medebeskuldigdes staar talle aanklagte, insluitend moord, poging tot moord en geldwassery in die gesig. Wainstein is in Augustus 2017 in sy huis in Constantia doodgeskiet.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, stel vandag volgens hom die onafhanklike verslag oor Pretoria High School for Girls bekend. Die departement het in Augustus die Johannesburgse regsfirma Mdladlamba Attorneys aangestel om vas te stel of daar ʼn kultuur van rassisme by die skool bestaan. Die ondersoek is ingestel nadat 12 wit meisies in Julie geskors is omdat hulle na bewering rassisties was. Hulle is ná ʼn tugverhoor van alle blaam onthef. Die departement sê die ondersoek sal bepaal watter verdere stappe gedoen word.
# Kemi Badenoch is die eerste swart vrou om ‘n groot Britse politieke party te lei nadat sy die Konserwatiewe leierskap met 57-persent van die stemme gewen het. Die 44-jarige Badenoch vervang die voormalige premier Rishi Sunak en het onderneem om die party te hernu ná sy skoknederlaag tydens die Britse verkiesing in Julie. Badenoch sal waarskynlik beleid ondersteun om die regering te verklein en waarna sy verwys as institusionele linkse denke, uitdaag. Sy sê dis tyd om die beginsels van vrye spraak, vrye onderneming en vrye markte te verdedig. Badenoch is die Konserwatiewes se vyfde leier sedert middel-2016.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Alexander Zverev, het die Paryse Ope en die sewende ATP Meesters 1000-titel van sy loopbaan gewen. Die 27-jarige Zverev het die gasheerland se gunsteling, Ugo Humbert, verslaan en die eerste Duitser geword wat die Parys Meesters kon wen sedert Boris Becker dit in 1992 reggekry het. Dis Zverev se tweede ATP Toer-titel vanjaar. Die sesde gekeurde Wesley Koolhof van Nederland en die Kroaat, Nikola Mektic, het die dubbelstitel gewen en sodoende hul vyfde ATP-titel van die jaar opgeraap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-33-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-738-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….