Nuus 07:00
BULLETIN 1 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering werk saam met die Ontwikkelingsbank om sukkelende munisipaliteite te help
# Helen Zille sluit aan by die multilaterale poging om die dispuut oor die BELA-wet op te los
# En krieket: Die Proteas is op dreef om die eerste Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd te haal
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering werk saam met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsbank om hulpbronne beskikbaar te stel om munisipaliteite met hul skuld te help. Munisipaliteite skuld krediteure 116,5-miljard-rand, en 75,3-persent van hierdie skuld is meer as 90 dae uitstaande. Daarenteen is 339,9-miljard-rand in 2023/2024 aan munisipaliteite verskuldig. Mashatile het gister in die Nasionale Vergadering gesê dis kommerwekkend dat baie munisipaliteite in finansiële nood verkeer:
# Helen Zille van die DA is onder ‘n uitgesoekte groep leiers van verskillende partye wat gaan aandag gee aan geskille rondom die BELA-wet. Die regering van nasionale eenheid se geskilbeslegtings-meganisme het haar, Andries Nel, Cornelius Mulder, Brett Herron en Mdumiseni Ntuli aangestel om bekommernisse binne twee weke op te los. Adjunkpresident Paul Mashatile het beklemtoon partybelange moet opsy geskuif word om binne die spertyd van drie maande oplossings te vind wat alle Suid-Afrikaners sal bevoordeel.
# Verslae van die Nasionale Sake-inisiatief dui aan Suid-Afrika moet ongeveer 60-duisend werksgeleenthede oor die volgende 25 jaar skep vir billike energie-oordrag. Die inisiatief se Powering Futures-verslag beklemtoon die onmiddellike behoefte aan vaardighede, veral in gemarginaliseerde gemeenskappe, met die klem op sonkrag- en konstruksiewerk. Sleutel-spilpunte sal teen 2025 Gauteng en die Noord-Vrystaat wees.
# Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, wens die matriekklas van 2024 sterkte toe met hulle wiskunde-eksamen vandag en Maandag. Dit is die grootste eksamensessie wat toekomstige loopbane in onder meer wetenskap, ingenieurswese en besigheid ondersteun. Woordvoerder Kerry Mauchline beklemtoon die noodsaaklikheid om matrikulante gedurende hierdie tyd te ondersteun:
# Die dodetal ná swaar reën en haelstorms wat kitsvloede in Spanje veroorsaak het, het tot 158 gestyg. Dit is die dodelikste oorstromings in die land se moderne geskiedenis. Valencia en omstreke is die swaarste getref met wydverspreide verwoesting van infrastruktuur, en brûe, paaie en spoorlyne wat weggespoel het terwyl plase onder water is. Oorstromings is ook by die stede Murcia en Malaga aangemeld. Die Spaanse Departement vir Sekerheid en Noodgevalle het weerwaarskuwings uitgereik aangesien nog reën vandag en môre verwag word.
# Krieket: Die Proteas is op dreef om die Wêreld-toetskampioenskap se eindstryd te haal nadat hulle Bangladesj in die tweede toets in Chattogram met ‘n beurt en 273 lopies verpletter het. Suid-Afrika het die reeks twee-nul gewen. Die Proteas is tans vierde in die toetskampioenskap, maar as hulle tussen nou en Januarie hulle vier tuiswedstryde teen Sri Lanka en Pakistan kan wen, kwalifiseer hulle vir Junie se eindwedstryd op Lord’s. Kaptein Aiden Markram sê dis wonderlik om in die wedloop tot die eindstryd te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22 -rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-63-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-749-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….