Nuus 07:00
BULLETIN 31 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwerp die Mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring
# AfriForum sê Lesufi se eerste 100 dae was ‘n mislukking
# En Brittanje bevestig sy eerste geval van ‘n gevaarlike nuwe a-pokke-stam
# Die EFF het die mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring verwerp en sê die regering gee voorkeur aan die privaat sektor bo werkskepping en ekonomiese groei. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die begroting gister aan die Parlement voorgelê en sê die Tesourie is vasbeslote om ‘n verstandige, gedissiplineerde benadering te volg om volhoubare staatsfinansies te verseker. EFF-leier Julius Malema sê die begroting erken nie die toenemende werkloosheid nie:
Die leier van RISE Mzansi, Songezo Zibi, vra intussen vir finansiële hervorming om die nasionale skuldlas aan te pak en aanspreeklikheid vir korrupsie te verseker. Zibi beklemtoon die behoefte aan beter befondsing vir die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke om vervolgings te bespoedig. Hy vra ook vir nuwe befondsingsmodelle vir sleutelinstellings. Hy gee toe Operasie Vulindlela het aansienlike verbeterings teweeggebring, maar beklemtoon die belangrikheid van deurlopende vordering:
# AfriForum sê Gauteng se premier Panyaza Lesufi se eerste 100 dae in sy amp sedert hy herverkies is, was ʼn mislukking. Lesufi is in Julie gedwing om ʼn veelparty- uitvoerende gesag saam te stel nadat die ANC sy meerderheid in die provinsiale regering verloor het. Die ANC-geleide regering van provinsiale eenheid bestaan uit verskeie partye, insluitend die Patriotic Alliance, RISE Mzansi en die IVP. Ernst van Zyl van AfriForum sê Lesufi se optrede tot dusver dui op agteruitgang en ʼn algehele gebrek aan ʼn werkbare plan:
# Die United Democratic Movement in die Oos-Kaap het meegevoel betuig met hoofman Zanomthetho en sy familie ná die tragiese dood van Nogcinile Mtirara, ‘n lid van die koninklike familie. Die UDM het die noodlottige skietery in Mqhekezweni, Oos-Kaap en die verkragtingsvoorval van vyf matrieks veroordeel. Die party het die dringende behoefte aan geregtigheid en veiligheidsmaatreëls beklemtoon en owerhede versoek om die oortreders tot verantwoording te roep.
# Brittanje het sy eerste geval van ʼn nuwe, gevaarliker a-pokke-stam aangemeld wat met uitbrekings in Afrika verbind word. Die Britse Gesondheid-sekerheidsagentskap sê die persoon het positief getoets vir Clade Ib-a-pokke nadat hy ‘n Afrikaland besoek het. Hy het 24 uur nadat hy teruggekeer het, begin siek voel. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het a-pokke in Augustus as wêreldwye gesondheidsnoodsituasie verklaar. Die agentskap sê die pasiënt word bestudeer.
# Hokkie: Suid-Afrika se nasionale manshokkiespan se afrigter, Cheslyn Gie, het bedank. Die span het onder sy leierskap die eerste FIH-nasiesbeker in Potchefstroom gewen en vir die Olimpiese Spele in Parys gekwalifiseer, waar hulle negende gekom het. SA Hokkie se tussentydse uitvoerende hoof, Shaune Baaitjies, sê Gie se toewyding het die mans se program voortgedryf en sy impak sal nog jare lank gevoel word. Baaitjies sê Gie se invloed het ʼn nuwe standaard gestel vir die span se sukses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22 -rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-182-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-784-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….