Nuus 07:00
BULLETIN 30 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Chidimma Adetshina en haar ma se identiteitsdokumente word teruggetrek
# Hizbollah het ‘n nuwe leier wat die stryd teen Israel voortsit
# En tennis: Jannik Sinner onttrek aan die Parys-meesters
# Die Departement van Binnelandse Sake sê hy gaan die identiteits- en reisdokumente van die gewese Mej. Suid-Afrika-finalis, Chidimma Adetshina, en haar Mosambiek-gebore ma terugtrek. Dit volg nadat hulle nie gereageer het op die departement se sperdatum van 28 Oktober om redes te verskaf waarom hul die dokumente moet behou nie. Adetshina se deelname aan die Mej., Suid-Afrika-skoonheidskompetisie is in omstredenheid gedompel nadat haar burgerskap in twyfel getrek is. Die departement se direkteur-generaal, Tommy Makhode, sê die twee staar moontlik bedrogklagtes in die gesig:
# Die Korrektiewe Dienste-komitee in die Parlement sal toesig hou oor regstellende optrede teen mense wat betrokke was by Thabo Bester se ontsnapping. Dit volg ná ‘n inligtingsessie oor die Openbare Beskermer se verslag, waarin die Departement van Korrektiewe Dienste se mislukkings met die hantering van Bester se ontsnapping uit die Mangaung-gevangenis uitgelig word. Die parlementêre regsadviseur, Bulelani Simani, bevestig hulle sal seker maak die departement doen die nodige stappe om die kwessies wat in die verslag geopper word aan te spreek, en om die verantwoordelikes aanspreeklik te hou:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het vier nuwe elektrisiteitsverhandelingslisensies en die land se eerste privaat invoer-uitvoerlisensie goedgekeur, ondanks teenkanting van Eskom. Lisensies is uitgereik aan CBI Electric Apollo, Discovery Green, Green Electron Market en GreenCo Power Services. Eskom het beswaar gemaak en aangevoer verskeie handelaars in een voorsieningsgebied kan die bedrywighede benadeel. Nersa het bevestig die Wet op Elektrisiteitsregulering bevorder mededinging. Die reguleerder het beklemtoon dit is nodig om reëls vir elektrisiteitsverhandeling en rotasie te ontwikkel.
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê sy bly verbind tot die raad se finansiële reddingspoging. Die debiteureboek het op 30 September op 24,3-miljard-rand gestaan. Die meeste debiteure, 72,8-persent, is huishoudings wat 17,7-miljard-rand skuld. Tshwane skuld Eskom 7,8-miljard-rand en Rand Water 517-miljoen-rand. Moya sê die situasie in die metro is so sleg dat geld van beplande projekte verskuif moes word:
# Hizbollah het sy adjunk-sekretaris-generaal, Naim Qassem, as sy nuwe hoof aangestel. Hy vervang Hassan Nasrallah, wat verlede maand in ‘n Israelse lugaanval in Beirut dood is. Qassem is een van die paar leiers van die Iran-ondersteunde groep wat Israel se onlangse aanslae op die organisasie oorleef het nadat talle belangrike leiers in sluipmoordaanvalle dood is. Hy het beloof Hizbollah sal voortgaan om teen Israel te veg in wat hy beskryf as ʼn oorlog om die vyand af te breek.
# Tennis: Die wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië, gaan nie meer deelneem aan die Paryse Meesterstoernooi nie. Hy sou vandag sy eerste wedstryd speel, maar het gister aangekondig ‘n virus in die ingewande hou hom uit die toernooi. Sinner word vervang deur die plaaslike kwalifiseerder Arthur Cazaux. Hy is reeds verseker van die nommer een-posisie aan die einde van die seisoen. Sinner beplan nog om volgende maand aan die ATP-eindtoernooi in Turyn in sy vaderland deel te neem, en aan die Davisbeker-eindtoernooi in Málaga, Spanje.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22 -rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-357-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-781-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….