Nuus 07:00
BULLETIN 29 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party versoek Godongwana om ekonomiese groei eerste te stel in sy begrotingsrede
# Die Nasionale Polisiekommissaris belowe beter polisiesigbaarheid gedurende die feestyd
# En ‘n Franse hof stel Gérard Depardieu se verhoor oor seksuele aanranding uit
# Die GOOD-party het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gevra om sy verbintenis tot die regering van nasionale eenheid se doelwitte te bewys en voorkeur te gee aan inklusiewe ekonomiese groei wanneer hy Woensdag sy minibegroting lewer. Die party beklemtoon die behoefte aan geloofwaardige fiskale hervormings en waarsku teen verdere besnoeiings aan noodsaaklike dienste soos onderwys en gesondheid. GOOD wil hê die Maatskaplike Hulpverlenigings-toelaag moet omskep word in ‘n basiese inkomste-toelaag om groeiende armoede en lewenskoste teen te werk.
# Die Presidensie sê Suid-Afrika het bewyse by die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland ingedien, oor Israel se beweerde volksmoord op Palestyne in Gaza. Die voorlegging sluit bewyse van meer as 750 bladsye in, waarin die bewerings uiteengesit word oor hoe Israel die Volksmoordkonvensie oortree het. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê volgens hierdie bewyse het Israel Palestyne deur militêre optrede benadeel, hulle van humanitêre hulp ontneem, en toestande geskep vir hul vernietiging:
# Die Nasionale Kommissaris van Polisie, Fannie Masemola, onderneem om die sigbaarheid van polisie gedurende die feestyd te verbeter om openbare veiligheid te verseker. Gekoördineerde patrollies en geteikende operasies word beplan om die seisoenale oplewing in misdaad aan te spreek, met die fokus op die bekamping van geweld gedurende die vakansietydperk. Masemola het aan die media gesê afgesien van hierdie onderneming, is nuwe inisiatiewe en kitslyne ingestel om afpersing en geweldsmisdade te bekamp:
# Crezane Bosch van die DA gaan ‘n saak by die Spesiale Ondersoekeenheid aanhangig maak oor ‘n tender van 9,7-miljoen-rand deur die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid vir 124 pistole, teen 78-duisend-rand elk. Volgens Bosch is die DA van mening hierdie hoë eenheidskoste dui op korrupsie. Die party vra ooreenkomstig die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite vir ‘n dringende ondersoek na die verkrygingsproses.
# Gérard Depardieu se prokureur het Maandag gevra dat die Franse akteur se verhoor oor seksuele aanranding uitgestel word. Depardieu, wat skuld ontken, word beskuldig dat hy “geweld, dwang, verrassing of dreigemente” gebruik het in die beweerde aanranding op twee vroue in 2021 op ‘n filmstel. Sy prokureur sê dokters het besluit die akteur is nie gesond genoeg om die verhoor by te woon nie, maar hy is gretig om in die hof te verskyn en homself te verdedig. Die verhoor word beskou as ʼn groot oomblik vir die groeiende MeToo-beweging in Frankryk.
# Motorsport: McLaren glo Max Verstappen se straf wat hy by die Mexikaanse Grand Prix ontvang het, moes swaarder gewees het. Verstappen is gestraf omdat hy in twee voorvalle met Lando Norris te aggressief bestuur het. Hy het in albei gevalle die Brit van die baan af gedruk soos hy ook ʼn week vroeër onder soortgelyke omstandighede in die Amerikaanse Grand Prix in Austin gedoen het. McLaren se spanhoof, Zak Brown, het die wedrenbeamptes geloof wat Verstappen met 20 sekondes gestraf het, en voeg by dis waarskynlik nie genoeg nie. Die driemalige wêreldkampioen het sesde geëindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-996-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-751-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….