Nuus 07:00
BULLETIN 23 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatsdepartemente het 1,4 miljard rand verkwis
# ActionSA kritiseer die regering oor onwettige immigrasiekoste
# En Amerika sê Israel moet munt slaan uit die dood van die Hamas-leier
# Die Ouditeur-generaal se kantoor sê 36 staatsdepartemente se verkwistende en onregmatige uitgawes het die afgelope vyf jaar 1,48-miljard-rand beloop. Instellings in staatsbesit se bedrag is meer as twee-miljard-rand. Die departemente wat die meeste tot verkwistende en onregmatige uitgawes bygedra het, is Bosbou, Visserye en die Omgewing, Basiese Onderwys, Polisie, Toerisme en die Tesourie. Die OG se oudit-hoof, Bongi Ngoma, het aan die Parlement se staande komitee oor Bewilligings gesê instellings in staatsbesit wat die meeste tot hierdie uitgawes bygedra het, is die SAL, Transnet en die Poskantoor:
# ActionSA het die regering aangeval oor die vermorsing van 200-miljoen-rand sedert 2022 vir die deportering van onwettige immigrante. Woordvoerder Lerato Ngobeni kritiseer die lae deportasiesyfer van 83-duisend-731 teenoor die vorige jaarlikse gemiddeld van 133-duisend. Sy sê belastingbetalers word onregverdig belas met die deportasie, behuising en gesondheidsorg van ongedokumenteerde buitelanders. Ngobeni wys op die ongelykheid tussen die deportasiekoste van twee-duisend-700-rand per persoon, en onvoldoende befondsing vir pensioene en kindertoelaes. Sy eis onmiddellike regeringsoptrede om grense te beveilig en die misbruik van staatsgeld te staak.
# Die Khampepe-kommissie van ondersoek na die brand in die Usindiso-gebou in Johannesburg waarin 77 mense dood is, het gehoor die nasionale en provinsiale regerings moet aanspreeklik gehou word. Palesa Sekate van die Menseregtekommissie beklemtoon dis nie genoeg om slegs die Stad Johannesburg die skuld te gee nie. Sy het die owerhede aangemoedig om aandag te gee aan die behuisingskrisis om toekomstige tragedies te verhoed:
# Die Valke ondersoek bewerings van korrupsie en geldwassery teen die Vrystaatse premier, Maqueen Letsoha-Mathae en haar man Lawrence Mathae, wat die Mangaung-raad se speaker is. Die ondersoek hou verband met ‘n verdagte tenderproses vir ʼn multimiljoen-randse bouprojek. Die egpaar en ander individue het volgens berigte gebaat deur groot betalings en weelderige geskenke te ontvang. Die betalings en geskenke sluit in een-miljoen-rand kontant aan die egpaar en ʼn Mercedes-Benz V300-klas. Die ANC oorweeg blykbaar tugstappe teen die twee.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, moet munt slaan uit die Hamas-leier, Yahya Sinwar, se dood deur die oorlog in Gaza te beëindig en die gyselaars huis toe te bring. Blinken het Dinsdag in Tel Aviv met die eerste minister beraadslaag en gesê Amerika glo Israel moet meer doen om humanitêre hulp na Gaza moontlik te maak. Netanyahu het die ontmoeting as vriendelik en produktief beskryf en bygevoeg hulle het ook die bedreiging uit Iran bespreek.
# Tennis: Iga Swiatek van Pole het bevestig sy gaan volgende maand in Málaga, Spanje, aan die Billie Jean King-bekertoernooi deelneem. Sy sal ook van 2 November in Riaad, Saoedi-Arabië, in die WTA-eindtoernooi speel. Dit sal haar eerste toernooi wees sedert die plaaslike speler Jessica Pegula haar in Augustus in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel het. Swiatek het daarna aan die WTA-toer se Asiese skof onttrek weens uitputting. Dit het veroorsaak dat sy die boonste plek op die wêreldranglys aan Aryna Sabalenka van Belarus moes afstaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 22 -rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-166-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-738-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….