Nuus 07:00
BULLETIN 18 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beloof die deurlopende monitering van misdaadsindikate
# Die uitvoerende hoof van PetroSA is geskors hangende die uitslag van ‘n voortgesette ondersoek
# En rugby: Jake White sê hy is reg bewys nadat David Kriel se rooikaart teruggetrek is
# President Cyril Ramaphosa het onderneem dat misdaadsindikate steeds gemonitor sal word en belowe verskerpte pogings teen georganiseerde misdaad. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens fokus op ontvoering en afpersing en het daarmee sy operasionele reaksie verbeter, insluitend die stigting van gesamentlike bedryfskomitees en ʼn nasionale prioriteitskomitee. Ramaphosa het tydens vraetyd in die Nasionale Vergadering gesê die polisie het ook interne maatreëls verskerp, insluitend teenintelligensie, keuring en leefstyloudits om integriteit in sy geledere te verseker:
# Die Petro SA-raad het sy uitvoerende hoof, Xolile Sizani, met onmiddellike ingang geskors, agt maande nadat hy aangestel is. Die raad wag intussen op die uitslag van ʼn ondersoek, maar geen besonderhede oor die aard daarvan is bekendgemaak nie. Sizani se aanstelling in Februarie vanjaar is beskou as ʼn poging om bestendigheid en leierskap na PetroSA te bring wat twee jaar sonder ʼn uitvoerende hoof was. Mmete Fusi is met onmiddellike ingang as tussentydse groepshoof aangestel.
# Die African Transformation Movement het die Departement van Binnelandse Sake se verwydering van belangrike dokumentasievereistes vir korttermynvisum-aansoeke teengestaan en waarsku dit stel nasionale veiligheid in gevaar. Die party voer aan die verslapping van reëls, insluitend die verwydering van huweliks- en doodsertifikaatvereistes, skep geleenthede vir misdadigers om Suid-Afrika te betree. Die ATM eis ’n strenger immigrasiebeleid om burgers te beskerm. Hulle doen ‘n beroep op die regering om openbare veiligheid eerder as toegeeflike immigrasiepraktyk in te stel.
# Die DA in Johannesburg het ʼn griefskrif van stapel gestuur om die Johannesburgse Waterraad te ontbind terwyl raadslede se kwalifikasies nagegaan word. Talle waterstelsels in die metro is onder druk en ander is leeg, terwyl 46-persent van Johannesburg se water verlore gaan sonder dat inkomste gegenereer word. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê ʼn volledige oudit van die raad wat op die identifisering van swak punte fokus, moet dringend uitgevoer word:
# Amerika het sanksies ingestel teen twee Chinese maatskappye wat volgens hom saam met Russiese instellings werk om langafstand-hommeltuie te ontwerp en te bou. Dis die jongste strafmaatreëls teen firmas wat Rusland se oorlog teen Oekraïne ondersteun. Die Amerikaanse Tesourie sê hy gaan ook optree teen ʼn Russiese maatskappy en sy eienaar, Artem Yamshchikov, wat volgens hom ʼn tussenganger is tussen die firmas en ʼn Russiese wapenmaatskappy in staatsbesit. Die Chinese ambassade in Washington sê China se handel met Rusland is ooreenkomstig die Wêreldhandelsorganisasie se reëls.
# Rugby: Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê hy is reg bewys toe die senter David Kriel se rooikaart wat hom opgelê is in die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Ospreys, teruggetrek is. Skeidsregter Eoghan Cross het hom afgestuur omdat hy sy arm uitgesteek het om ‘n verdediger te probeer afweer, maar die kompetisie se tugkomitee het bevind die rooikaart was nie geregverdig nie, en het dit gekanselleer. White het die URK en sy tugproses geloof, maar sê die besluit is nie kritiek op die wedstrydbeamptes nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22 -rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-889-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-709-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….