Nuus 07:00
BULLETIN 17 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê hy neem kennis van die NVG se besluit om nie die Phala Phala-saak te vervolg nie
# Die DA veroordeel die regering vir verkwistende besteding aan onvoltooide toerismeprojekte
# En Zelensky lê sy oorwinningsplan aan die Oekraïnse Parlement voor
# Die Presidensie sê hy neem kennis van die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om nie in die Phala Phala-saak te vervolg nie. Die voormalige spioenbaas, Arthur Fraser, het ‘n saak aanhangig gemaak teen president Cyril Ramaphosa en die gewese hoof van sy presidensiële beskermingspan, Wally Rhoode. Dit hou verband met die beweerde toesmeerdery van die diefstal in 2020 van buitelandse geld op die president se wildsplaas in Limpopo. Die MK-party sê hy gaan met privaat vervolging begin. Die Presidensie sê die gegriefde partye kan die saak regstreeks na die NVG neem.
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Toerisme, Patricia de Lille, om toerismeprojekte wat oor die afgelope dekade begin is te oudit, met verwysing na ‘n bedrag van meer as 500-miljoen-rand vir ‘n projek wat min gevorder het. Die party beweer verslae dui aan talle projekte is onvoltooi of gevandaliseer en onreëlmatige uitgawes is ‘n groot bekommernis. Die DA-lid, Haseena Ismail, eis beter toesig en sterker projekbestuur om te verseker hierdie projekte verbeter Suid-Afrika se toerismepotensiaal:
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, het die Tshwane Beleggingsoperasie veroordeel omdat hy versuim om die voordele van basiese gesondheidsorg te betaal soos in die laaste ronde loonsamesprekings ooreengekom is. Die operasie bestuur die Bus-snelvervoerstasies in Pretoria. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die bestuur dring aan dat werkers op ʼn individuele basis voorleggings indien oor waarom hulle die basiese mediese dekking moet betaal:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, het sy langverwagte oorwinningsplan in Kiëf aan die Parlement voorgelê. Dit is daarop gemik om sy land se posisie sodanig te versterk dat die oorlog met Rusland teen volgende jaar beëindig kan word. Die oorlog het uitgebreek met Rusland se inval in Februarie 2022. Die plan bestaan uit vyf sleutel-elemente, waaronder ‘n formele uitnodiging om by Navo aan te sluit. Zelensky het China, Iran en Noord-Korea ook gekritiseer vir hulle steun aan Rusland. Hy sal die oorwinningsplan vandag op ‘n beraad van die Europese Unie voorlê.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner, Robin Williams, gaan die eerste keer sy titel verdedig in die Fortress-uitnodigingstoernooi wat vandag by die Glendower-gholfklub in Gauteng begin. Hy het verlede week gelykop vierde geëindig in die toonaangewende Alfred Dunhill Links-kampioenskap in Skotland waar hy meegeding het teen groot wenners in een van die sterkste groep spelers in daardie toernooi se geskiedenis. Williams sê hy is bewus dat sy reis tot op hierdie punt begin het met sy oorwinning verlede jaar in die Fortress-uitnodigingstoernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-562-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-681-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-47-sent per vat.
# En om af te sluit: Bewaringsgesindes het minstens agt spesies vlermuise gevind in ʼn groep verlate steenkoolmyne in die Engelse graafskap, Yorkshire. Die vlermuise gebruik die mynskagte en omliggende heuwels naby Barnsley vir paring gedurende die herfs. Vlermuiswyfies kry net een kleintjie per jaar en die vorming van swerms is van deurslaggewende belang vir die beveiliging van die volgende geslag vlermuise. Bewaringsgesindes sê die monitering van sulke projekte is belangrik omdat vlermuise as ‘n groep ‘n uitstekende aanduiding gee van die algemene welstand in hulle ekosisteem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….