Nuus 07:00
BULLETIN 11 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Floyd Shivambu se nuwe beweging sal aan volgende jaar se verkiesing deelneem
# Die waarnemende minister van Polisie veroordeel die sinnelose moord op polisiebeamptes
# En rugby: ‘n Ervare Springbok-vrouespan is op pad na die Wêreldbeker in Engeland
# Die voormalige sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu, het bevestig die Afrika Mayibuye Movement gaan in 2026 aan die munisipale verkiesing deelneem. Shivambu het met Suid-Afrikaners landwyd beraadslaag om hul mening oor ‘n nuwe politieke party te toets. Hy het Sondag by die Johannesburgse stadsaal in Gauteng gesê die beraadslagingsproses is steeds aan die gang, maar hulle het reeds begin aansoek doen om aan die munisipale verkiesing deel te neem:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die sinnelose geweld teen manne en vroue in blou is ʼn aanval op die oppergesag van die reg. Adjudantoffisier Vuyisile Sintwa en sersant Simon Masenye is Vrydag in Roodepoort, Gauteng, vermoor terwyl hulle ʼn verhoorafwagtende gevangene, Jabulani Moyo, vervoer het. In Mpumalanga is sersant Lawrence Mtshweni Saterdag vermoor toe hy op ʼn inbraak in Schoemansdal gereageer het. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Cachalia vra groter waaksaamheid:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het ‘n dringende hofaansoek ingedien om te verhoed dat ‘n onafhanklike kandidaat in die 2024-verkiesing, Anele Mda, berigte publiseer wat hom verbind met die moord op die tendermagnaat Wandile Bozwana. Mbalula se regspan voer aan die plasings is lasterlik en misleidend en stel hom in ‘n swak lig. Mbalula sê die bewerings is ongegrond en eis dat Mda wettiglik verhinder word om dit verder te deel. Die saak word na verwagting binnekort aangehoor.
# Die DA in Gauteng gaan ‘n aansoek indien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om Ekurhuleni se finansiële rekords te bekom. Die party beskuldig die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Jacob Mamabolo, dat hy die stad se groeiende skuldkrisis verberg. In April het Mamabolo onthul dat die metro 6,3-miljard-rand aan diensverskaffers, insluitend Eskom en Rand Water, verskuldig is. Michael Waters van die DA sê hy het besonderhede weerhou:
# Die Palestynse gesant by die Verenigde Nasies, Riyad Mansour, sê Israel moet heeltemal onttrek uit Gaza. Die VN-veiligheidsraad het Sondag ʼn noodvergadering gehou oor Israel se plan om beheer te neem oor Gazastad. Mansour beskuldig Israel dat hy die oorlog uitrek om ʼn onafhanklike Palestynse staat te keer en nie om Hamas se beheer te beëindig nie. Hy beweer Israel se doel is die vernietiging van Palestyne deur gedwonge verskuiwing en massaslagtings om die gebied te annekseer:
# Rugby: Die mees ervare Springbok-vrouespeler, Nolusindiso Booi, sal ʼn sterk groep van 32 lei by die Vroue-wêreldrugbybeker in Engeland. Die span spog met spelers wat altesaam 689 keer vir die Bokke uitgedraf het. Negentien het Wêreldbeker-ervaring, onder andere onderkaptein Babalwa Latsha, wat die span in 14 toetse aangevoer het. Suid-Afrika skop hul veldtog die 24ste in Northampton af teen die toernooi se nuwelinge, Brasilië, voor hul ander Groep D-wedstryde teen Italië en Frankryk. Die groep kom môre in Johannesburg bymekaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-242-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-375-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….