Nuus 07:00
BULLETIN 16 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid kry ‘n rekord van agt-miljard-rand vir die staat terug
# Die DA dien korrupsieklagtes teen die Vrystaatse premier in
# En president Ramaphosa kondig ‘n amptelike begrafnis af vir Tito Mboweni
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê hy het in die 2023/2024-boekjaar ‘n rekordbedrag van agt-miljard-rand vir die staat teruggekry. Dit is die gevolg van doeltreffende ondersoeke, spoedige litigasie en verhalingsprosesse. Die grootste verhaalde bedrae kom uit ondersoeke na Transnet, Eskom en die Nasionale Finansiële Hulpfonds vir Studente. Die ondersoekeenheid se hoof, Andy Mothibi, sê hulle het ook kontrakte en administratiewe aangeleenthede ter waarde van meer as 2,13-miljard-rand gekanselleer deur die Spesiale Tribunaal en Suid-Afrikaanse Hooggeregshof:
# Die vakbondfederasie Cosatu het die Departement Water en Sanitasie gekritiseer omdat hy nagelaat het om geld te gebruik wat toegeken is om puttoilette in die Vrystaat en die Noord-Kaap te verwyder. Slegs een-duisend-200 is opgradeer ondanks ‘n vyfjaar-teiken om meer as 12-duisend toilette te vervang. Die Ouditeur-Generaal het onthul dat slegs 12-miljoen van die 504-miljoen wat toegeken is, bestee is. Cosatu eis aanspreeklikheid en blitsige optrede om gemeenskaps-waardigheid te herstel en beskryf die vertraging as ‘n skending van basiese menseregte.
# Die DA het ‘n beëdigde verklaring by die Valke ingedien waarin ernstige bewerings van korrupsie teen die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoa-Mathae, uiteengesit word. Die party se provinsiale leier, Roy Jankielsohn, het onthul dat WhatsApp-boodskappe van New Beginnings se uitvoerende hoof, Patrick Phuti, die premier, haar man en ander amptenare betrek. Hy sê dit handel onder meer oor die wanaanwending van openbare geld, betalings vir ANC-geleenthede en ongerymde padprojektransaksies:
# President Joe Biden van Amerika se administrasie het aan die Israelse regering geskryf om dié land 30 dae tyd te gee om toegang tot humanitêre hulp in Gaza te verbeter, anders loop hy gevaar om Amerikaanse wette oor buitelandse militêre bystand te oortree. Die minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, en minister van Verdediging, Lloyd Austin, het die brief geskryf. Amerika het Israel beveel om oor die volgende maand humanitêre pouses in Gaza in te stel sodat mense in die Al-Mawasi humanitêre sone in Gaza voor die winter dieper in Gaza kan inbeweeg.
# Krieket: Die Proteas-speler, Aiden Markram sê om kaptein van die toetsspan te wees is ʼn droom wat bewaarheid word. Die witbalkaptein sal Suid-Afrika in die eerste toets teen Bangladesj in Mirpur aanvoer wat op die 21ste begin. Beseerde kaptein, Temba Bavuma, het gister saam met die Proteas na Bangladesj gereis en hoop om betyds fiks te wees vir die tweede toets in Chattagram vanaf die 29ste. Markram sê hy droom al van kindsbeen af om Suid-Afrika aan te voer en sal steun op sy ervaring in die korter formate.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-438-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-668-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het ʼn spesiale amptelike Kategorie 2-begrafnis aangekondig vir die voormalige minister van Finansies en president van die Reserwebank, Tito Mboweni. Hy is Saterdag ná ʼn kort siekbed op 65-jarige leeftyd dood. Sy begrafnis vind Saterdag by die Nkowankowa-stadion in Tzaneen, Limpopo, plaas. Ramaphosa het opdrag gegee dat die nasionale vlag van vandag af tot die aand van die begrafnis by alle vlagstasies halfstok gehys word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….