Nuus 07:00
BULLETIN 15 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid moet werk skep en die ekonomie laat groei
# Transnet waarsku oor ‘n tekort aan brandstofinvoere
# En Nancy Pelosi sê Netanyahu het nog nooit in ‘n tweestaat-oplossing geglo nie
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die ANC-geleide regering van nasionale eenheid gaan oor werkskepping, ekonomiese groei en die stryd teen misdaad in gemeenskappe. Hy het gisteraand in Gauteng ‘n omvattende opsomming gegee van die eerste 100 dae nadat die regering van nasionale eenheid gevorm is. Ramaphosa sê die ANC sal onder die koalisieregering voortgaan om die hervorming van Suid-Afrika te lei:
Die ANC-voorsitter in Gauteng Panyaza Lesufi waarsku intussen teen individue wat die party se leierskap wil ondermyn. Die party se sekretaris-generaal Fikile Mbalula en Lesufi het koppe gestamp oor die regering van nasionale eenheid. Hy en die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, is ook haaks nadat sy hom ʼn struikelblok genoem het wat in die pad staan van ʼn DA/ANC-koalisie in Gauteng. Lesufi het by die ANC se viering van die regering van nasionale eenheid se 100 dae gesê ANC-leierskap moet gerespekteer word:
# Transnet waarsku Suid-Afrika se groeiende afhanklikheid van brandstofinvoere, wat 61-persent van voorraad uitmaak, skep die gevaar vir tekorte. Die logistieke groep wys op die behoefte aan verbeterde infrastruktuur om brandstof te berg en te vervoer. Transnet sê die land se raffineringsvermoë het gedaal weens die sluiting van raffinaderye en strenger brandstofstandaarde. Hy beplan beleggings in Durban se hawe, insluitend bergingstenks, en ‘n pypleiding vir stralerbrandstof.
# SAMWU het ‘n Arbeidshof-uitspraak verwelkom om die Stad Tshwane se twee sake oor salarishersienings volgende maand saam aan te hoor. SAMWU eis die implementering van die 3,5-persent en 5,4-persent salarisverhogings. Die vakbond gee die DA-geleide koalisie die skuld vir die verpolitisering van die kwessie en dring aan die nuwe leierskap moet werkers se welsyn prioritiseer. Die vakbond sê hy bly daartoe verbind om regverdige vergoeding vir sy lede te verseker.
# Die gewese speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, Nancy Pelosi, sê Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het volgens haar nog nooit in vrede of ʼn tweestaat-oplossing geglo nie. Die Internasionale Geregshof het in Julie bevind dat Israel die onwettige besetting en apartheidstelsel moet beëindig. Dit baan die weg na vrede en ʼn tweestaat-oplossing. Pelosi sê Amerika het nog altyd ʼn tweestaat-oplossing ondersteun:
# Rugby: Die Bulle se direkteur van rugby. Jake White, sê hulle wil die rooikaart in die VRK-wedstryd teen die Ospreys in Swansea aan senter, David Kriel, laat herroep. Die Pretoriase span het met 29-19 gewen ten spyte van ʼn geelkaart aan Springbok-flank, Elrigh Louw. Hulle het in die laaste tien minute net 13 spelers gehad. Skeidsregter Eoghan Cross het Kriel se afstamp aanvanklik aanvaar maar na die reaksie van die skare is daar weer gekyk en ʼn rooikaart toegeken. White het sy spelers geprys vir die oorwinning.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-862-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….