Nuus 07:00
BULLETIN 7 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil hê president Ramaphosa moet sê wat hy oor minister Simelane se VBS-lening geweet het
# Die polisie arresteer ‘n 14de vermeende dwelmmuil by OR Tambo
# En Israel ontken ‘n Hizbollah-leier het ingestem tot ’n skietstilstand voor sy sluipmoord
# Die DA doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om te erken wat hy van die VBS-verwante lening van Justisie-minister Thembi Simelane geweet het. Volgens berigte is Ramaphosa van die twyfelagtige transaksie in kennis gestel voor Simelane in 2021 in die Kabinet aangestel is. Die president het tyd en ruimte gevra om die minister se verslag oor die lening te bestudeer. Glynnis Breytenbach van die DA sê Simelane se versuim om die leningsooreenkoms en bewys van betaling bekend te maak, skep meer agterdog:
# Die minister van Staatsdiens en Administrasie, Inkosi Mzamo Buthelezi, het onthul drie kabinetsministers het afwykings gevra om ongekwalifiseerde kandidate in hulle ministeriële kantore aan te stel. Die minister van Landbou John Steenhuisen, sy eweknie van Water en Sanitasie Pemmy Majodina en die minister van Minerale en Petroleum Gwede Mantashe het goedkeuring gevra maar dit is afgekeur. Intussen het RISE Mzansi die besluit geprys as ‘n deurslaggewende stap in die professionalisering van die staatsdiens, wat geleenthede verseker vir gekwalifiseerde beroepslui en werklose gegradueerdes.
# ʼn Drie-en-veertigjarige dwelmmuil van Paraguay is gister by die OR Tambo Internasionale Lughawe gearresteer. Die man is die derde wat die afgelope week by die lughawe vasgetrek word nadat die polisie twee Nederlandse reisigers met 80 kilogram Khat betrap het. ʼn Polisie-woordvoerder, Amanda van Wyk, sê dit bring die totale getal vermeende dwelmmuile wat die afgelope tyd by die lughawe aangekeer is, op 14 te staan:
# Israel se ambassadeur in die Verenigde Koninkryk, Tzipi Hotovely, ontken Libanon se bewering dat die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah, voor sy sluipmoord ʼn skietstilstand-ooreenkoms aanvaar het. Israel en Hizbollah se oorgrens-aanvalle duur intussen voort. Amerika se president Joe Biden en ander bondgenote het verlede week in die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering ʼn tydelike skietstilstand van 21 dae gevra. Hotovely het aan die BBC gesê Israel wou nie ʼn oorlog met Gaza of Libanon hê nie:
# Tennis: Die wêreld-nommer-ses, Coco Gauff, het met Karolina Muchova afgereken om die Chinese Ope te wen. Dis die agste WTA-titel van haar loopbaan en eerste sedert Januarie. Die Amerikaner het die ongekeurde Tsjeg verpletter om die toernooi se jongste kampioen in 14 jaar te word. Die vyfde gekeurde dubbelspel-paar, Sara Errani en Jasmine Paolini, het die eerste Italiaanse kampioene by die Chinese Ope geword toe hulle Chan Hao-Ching van Taiwan en Veronika Kudermetova van Rusland in die dubbels-eindstryd verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-871-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Die Japanse speelgoedmaker MegaHouse het ‘n miniatuur Rubik-kubus onthul, wat so klein is, ‘n haartangetjie sal dalk nodig wees om dit op te los. Elke kant van die aluminiumkubus is omtrent vyf millimeter wyd. Dit is verlede week vir voorbestellings op die vervaardiger se webblad beskikbaar gemaak, met aflewerings wat volgende April verwag word. Dit weeg net 0,3 gram en is omtrent een-duisendste van die grootte van die oorspronklike een. Guinness-wêreldrekords het die mikro-kubus bevestig as die wêreld se kleinste roterende sukkelspelkubus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….