Nuus 07:00
BULLETIN 4 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof sal die EFF se Phala Phala-saak in November aanhoor
# Solidariteit sê die hofstryd oor die NGV gaan onbestrede voort
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie berig 28 gesondheidswerkers is in Libanon dood
# Die Konstitusionele Hof hoor op 26 November die EFF se aansoek aan om die Parlement se besluit om president Cyril Ramaphosa nie na ‘n ampsklagkomitee te verwys nie, te verwerp. Dit hou verband met die Phala Phala-skandaal. In 2022 het die ANC sy meerderheid in die Nasionale Vergadering gebruik om ʼn mosie vir ʼn ampsklagondersoek teen Ramaphosa te kelder. Dit ten spyte van ʼn onafhanklike paneel se bevinding dat Ramaphosa wel antwoorde moet verskaf oor die diefstal van buitelandse geld op sy plaas in Limpopo. Die EFF sê die Parlement se verwerping van die paneel se verslag was irrasioneel.
# Die vakbond Solidariteit sê hulle gaan onbestrede voort met hulle hofstryd teen die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering nadat die regering nog ʼn sperdatum misgeloop het om beantwoordende dokumente in te dien. Die vakbond het sy saak aanvanklik in Mei aanhangig gemaak en tot uitstel ingestem maar die regering het na vier maande nog nie reageer nie. Solidariteit-woordvoerder, Peirru Marx, sê hulle werk aan alternatiewe voorstelle vir die NGV wat binnekort bekend gemaak sal word:
# Business Unity South Africa is bekommerd oor Cosatu se beplande protesaksie volgende week teen afleggings. Busa waarsku herhaaldelike protesaksies met Nedlac-sertifikate wat reeds verval het, plaas druk op die ekonomie en sakeondernemings. Busa erken die belangrikheid van arbeidsregte maar uitvoerende hoof, Cas Coovadia, beklemtoon protesaksie moenie ekonomiese stabiliteit in gedrang bring nie en bepleit samewerking om strukturele kwessies aan te spreek. Hy vra ook vir hervormings om die tydperk tussen ʼn Nedlac-sertifikaat en protesaksie vas te pen om toepaslikheid te verseker.
# AfriForum sê die aankondiging dat die Stad Tshwane boetes gaan uitreik en watertoevoer gaan afsny na inwoners wat die vlak een-waterbeperkings oortree, is verregaande. Watergebruik is 18-persent bo die metro se beperking en Tshwane sê reservoirs se vlakke daal skerp. AfriForum sê dis onaanvaarbaar dat wetsgehoorsame landsburgers wat hulle munisipale rekeninge getrou betaal, gestraf word terwyl die metro een van die grootste bydraers tot die krisis is.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê 28 gesondheidswerkers is die afgelope 24 uur in Libanon dood. Meer as een-duisend mense in dié land is dood en sowat eenmiljoen inwoners is verplaas sedert Israel se oorlog teen die Iran-ondersteunde militante groep Hizbollah verskerp het. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê weens vliegbeperkings oor die land kan ʼn groot besending trauma- en mediese voorrade nie vandag in Libanon afgelewer word nie:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Darren Fichardt het ʼn openingsronde van elf-onder 61 by die Alfred Dunhill Links-kampioenskap in Skotland behaal om met een hou voor te loop teen die Australiër, Cameron John. Robin Williams en Yurav Premlall is die volgende beste Suid-Afrikaners na hul rondes van ses-onder 66 by Kingsbarns. Die Britse verdedigende kampioen Matthew Fitzpatrick en Tommy Fleetwood het albei 68 aangeteken. Fichardt sê hy het aan die begin van die toernooi gevoel sy spel beweeg in die regte rigting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-192-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-658-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….