Nuus 07:00
BULLETIN 3 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum versoek die DA en VF Plus om hul deelname aan die regering van nasionale eenheid te heroorweeg
# Die EFF veroordeel die beweerde sluipmoordpoging op sy Gautengse voorsitter
# En krieket: Die Proteas begin die eendagreeks teen Ierland op ’n wen-noot
# AfriForum versoek die DA en Vryheidsfront Plus om hul deelname aan die regering van nasionale eenheid te heroorweeg indien die omstrede BELA-wet sonder veranderings in werking gestel word. Die organisasie beplan versetoptrede en beweer die regering verontagsaam verdere gesprekke oor die aangeleentheid. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, waarsku die wet hou ‘n bedreiging in vir Afrikaanse skole en kan Afrikaanse gemeenskappe negatief raak:
# Blinde SA het ‘n oorwinning behaal vir 50 blinde en siggestremde studente nadat hulle in die Gelykheidshof ʼn skikking bereik het met die Instituut vir Gesertifiseerde Boekhouers. Die studente is voorheen verhinder om hulle kwalifikasie te behaal omdat die aanlyn platform van die instituut nie met skermleser-sagteware werk nie. Die hof vereis nou dat die instituut studente vir die eksamens registreer en ekstra tyd toelaat vir skrywers of lesers met sig. Blinde studente sal voortaan dieselfde steun ontvang.
# Die EFF het die beweerde sluipmoordpoging op sy Gautengse voorsitter, Nkululeko Dunga, veroordeel. Die party sê Dunga se seun het gisteroggend vroeg voetstappe op hul huis se dak gehoor en onmiddellik die veiligheidswag geroep. Gewapende indringers het die wag in ʼn lokval gelei en in die arm gewond. EFF-woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê die wag het op minstens drie aanvallers teruggeskiet voordat agt swaar gewapende indringers van die toneel gevlug het:
# Die regering gaan Sondag ‘n massa-gedenkdiens hou vir die slagoffers van die massamoord op Lusikisiki in die Oos-Kaap. Onbekende aanvallers het toegeslaan op twee huise in Ngobozana. Sewentien mense is op die toneel dood, en die 18de later in die hospitaal. Hulle was besig met voorbereidings vir ‘n tradisionele seremonie na die routydperk vir twee familielede wat ‘n jaar gelede vermoor is. Die ondersoek duur voort, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie en die motief bly duister.
# Die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, Linda Thomas-Greenfield, het Iran se missielaanval op Israel veroordeel en sê dit vererger spanning in die Midde-Ooste. Iran het Dinsdag sowat 200 ballistiese missiele op Israel afgevuur, maar die meeste is met behulp van Amerika onderskep. Volgens Iran was die aanval uit weerwraak op die dood van die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah, en ander. Thomas-Greenfield waarsku nog sanksies gaan teen Teheran ingestel word:
# Krieket: Suid-Afrika het Ierland met 139 lopies verpletter in die eerste van drie eendagwedstryde by die Sheikh Zayed-stadion in Abu Dhabi. Aanvangskolwer Ryan Rickelton het met 91 die meeste lopies aangeteken en ʼn vierde paaltjie-vennootskap van 152 met Tristan Stubbs gedeel. Die Proteas het in hul 50 boulbeurte 271 vir nege op die telbord geplaas. In antwoord daarop het Lizaad Williams vier paaltjies platgetrek en Ierland was op 132 almal uit. Die tweede eendagwedstryd vind môre op dieselfde veld plaas en die laaste wedstryd is Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-142-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….