Nuus 07:00
BULLETIN 30 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE wil dit moeilik maak vir lede met regsprobleme om in die Parlement te dien
# DENOSA is bekommerd oor die uittog van geskoolde gesondheidswerkers
# En krieket: Ierland vier hul eerste T20-oorwinning oor Suid-Afrika
# COPE vra die Parlement om nuwe reëls in te stel wat die instelling se integriteit beskerm en voorkom dat verdagte individue in magsposisies aangestel word. Dit volg nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die MK-party se leier in die Parlement, John Hlophe, verbied het om deel te neem aan die komende onderhoude vir die Regterlike Dienskommissie. COPE sê dis ‘n hernude oproep vir wetgewing wat dit moeilik sal maak vir diegene met sake teen hulle om as parlementslede te dien. Dit sal hulle dwing om hul regsprobleme op te los voordat hulle die amp aanvaar.
# Die Demokratiese Verplegingorganisasie van Suid-Afrika het kommer uitgespreek oor berigte dat ervare gesondheidswerkers na lande soos Brittanje, Dubai en Duitsland verhuis. In Mei het die Departement van Gesondheid ‘n vakaturekoers van 18,6-persent vir gespesialiseerde mediese personeel en 13,7-persent vir verpleegpersoneel gerapporteer. DENOSA se Gautengse voorsitter, Simphiwe Gada, sê dis belangrik om die opgeleide mense in die land te hou:
# ʼn Een-en-twintig-jare Suid-Afrikaanse vrou is gister by die OR Tambo Internasionale Lughawe gearresteer omdat sy vermoedelik dwelms gesmokkel het. Die vrou is uitgeken en voorgekeer toe sy op ʼn vlug vanaf São Paulo, Brasilië, in die land aangekom het. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê dis die elfde dwelmmuil wat die afgelope twee maande by die lughawe vasgetrek word:
# Die ANC in KwaZulu-Natal het die voormalige burgemeester van die KwaDukuza-munisipaliteit, Lindi Nhaca, geskors omdat sy die party se besluite geminag het. Die skorsing vorm deel van voortgesette dissiplinêre prosesse. Die ANC benadruk lede moet partydoelwitte bo persoonlike belange stel. Hulle is van mening Nhaca se optrede het glo eenheid in die party bedreig. Sy word gevolglik verbied om ANC-vergaderings by te woon of om die party in enige hoedanigheid te verteenwoordig.
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram het ʼn noodprojek begin om voedselhulp te voorsien aan tot een-miljoen mense wat geraak word deur die konflik in Libanon. Meer as een-duisend mense is dood sedert Israelse aanvalle verlede week. Die program het tot dusver meer as 66-duisend mense in skuilings reg oor Libanon bereik. ʼn Woordvoerder, Corinne Fleischer, sê verdere aanvalle sal ʼn nadelige uitwerking op die streek hê omdat dit die humanitêre gemeenskap se gesamentlike bedryfs- en finansiële vermoëns sal belemmer.
# Krieket: Ierland het Suid-Afrika in die tweede en laaste T20-wedstryd in Abu Dhabi met 10 lopies gewen en die reeks van twee wedstryde gelykop laat eindig. Ross Adair het 100 lopies van 58 balle aangeteken en sy eerste T20-honderdtal behaal, wat bygedra het tot Ierland se 195 vir ses in hul 20 boulbeurte. Mark Adair het geantwoord met vier paaltjies en die Proteas kon slegs 185 vir nege op die telbord plaas. Dit was Ierland se sewende poging teen Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-720-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-653-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….