Nuus 07:00
BULLETIN 27 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daniel Silke sê die verwydering van die Tshwane-burgemeester is ’n teken van onenigheid in die ANC
# NUMSA betoog teen die misbruik van die sekerheidsektor se voorsorgfonds
# En ‘n Israel-aanval in Beiroet eis die lewe van ‘n Hisbolla-bevelvoerder
# Die politieke ontleder, Daniel Silke, sê die goeie gees van die regering van nasionale eenheid wat op nasionale vlak gevorm is, syfer nie deur na die plaaslike vlak nie. Die ANC, EFF en ActionSA het gister met hul mosie van wantroue daarin geslaag om die Tshwane-burgemeester, Cilliers Brink van die DA, te verwyder. Altesaam 120 raadslede het vir die mosie gestem en 87 daarteen, terwyl een lid buite stemming gebly het. Silke sê Brink se verwydering is ‘n teleurstelling wat meer dui op interne verdeeldheid in die ANC:
ActionSA het intussen die verwydering van Brink verwelkom en beskryf dit as die einde van die DA se mislukte leierskap in die hoofstad. Die party kritiseer Brink se ampstermyn en verwys na swak dienslewering, veral in townships waar slegs 24-persent van die inwoners verbeterings ervaar het. Die party was deel van die DA-geleide koalisie. Die provinsiale voorsitter van ActionSA, Funzi Ngobeni, beplan om die verkiesing van ʼn nuwe burgemeester te steun wat voorrang sal gee aan die verbetering van dienste vir alle inwoners:
# NUMSA in die Wes-Kaap, het saam met verskeie ander vakbonde, na die Parlement opgeruk en optrede geëis teen sekerheidsmaatskappye, wat die mediese en voorsorgfondse van werkers plunder. Hulle het ʼn memorandum voorgelê en ‘n beroep gedoen op lede van die parlementêre komitees vir Finansies en die Polisie om nakoming te verseker. NUMSA-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, onderneem om steeds druk op die regering toe te pas om die regte van werkers te beskerm en kollektiewe ooreenkomste af te dwing:
# Die EFF sê die kwartaallikse indiensnemingstatistieke wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, is nog ‘n aanduiding dat die regering van nasionale eenheid misluk om die ekonomie te bestendig en werk te skep. Voltydse indiensneming het in die tweede kwartaal vanjaar met 39-duisend afgeneem in vergelyking met die eerste kwartaal. Hierdie afname was hoofsaaklik te wyte aan die besnoeiing van poste in vervaardiging, mynbou, vervoer, handel en sakedienste. Die EFF sê die regering moet beleggings in produktiewe sektore aanmoedig om landsburgers te bevoordeel.
# Israel se weermag sê hy het gister presisie-aanvalle in die Libanese hoofstad Beiroet uitgevoer en ʼn Hisbolla-bevelvoerder is dood. Vyftien mense is beseer. Dit ten spyte van 12 bondgenote, insluitend Amerika, die Verenigde Koninkryk en Frankryk, se oproep vir ʼn skietstilstand van 21 dae in Libanon. Hulle vra ʼn diplomatieke oplossing vir die toenemende konflik. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy het die weermag opdrag gegee om Hisbolla met alle mag te beveg tot hul doelwitte bereik word. Intussen is minstens 15 mense in Gaza in ʼn Israelse lugaanval dood.
# Motorsport: Die Formule Een-span RB het die Australiër, Daniel Ricciardo, met onmiddellike ingang uitgeskop en met die Nieu-Seelander, Liam Lawson, vervang vir die seisoen se laaste ses wedrenne. Ricciardo se spanmaat, Yuki Tsunoda, het hom vanjaar gereeld die loef afgesteek. Lawson het verlede seisoen aan vyf wedrenne deelgeneem nadat Ricciardo sy polsgewrig in ʼn botsing tydens die Nederlandse Grand Prix gebreek het. Ricciardo het in sy F1-loopbaan van 14 seisoene 257 keer weggespring en agt oorwinnings behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-76-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-668-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….