Nuus 07:00
BULLETIN 26 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA ontbloot ‘n kommerwekkende vakature-krisis in die gesondheidsektor
# ’n Tussentydse verslag beklemtoon die foute wat tot Trump se sluipmoordpoging in Julie gelei het
# En swem: Chad le Clos en Lara van Niekerk is van die krukkelys af
# ActionSA het sy kommer uitgespreek oor die groeiende krisis met vakatures in die gesondheidsorgsektor. Woordvoerder Kgosi Letlape sê daar is 44-persent vakatures vir senior bestuurders in die Noord-Kaap en ‘n dokterstekort van 22-persent in die Vrystaat. Letlape beweer ʼn parlementêre vraag het aan die lig gebring uitbranding, ʼn lae personeelretensie en stygende regsake oor wanpraktyke is die belangrikste redes vir die vakatures. ActionSA eis dringende regeringsingryping om hierdie leemtes aan te spreek en openbare gesondheidsorg te verbeter.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die regering van nasionale eenheid moet ʼn dapper benadering volg om seker te maak Suid-Afrikaners het toegang tot goedkoop, betroubare elektrisiteit. Eskom is gekritiseer oor sy tariefverhogingsaansoek wat by die Nasionale Energiereguleerder ingedien is. Daarin vra hy ʼn tariefverhoging van 36,15-persent vir direkte klante in die 2025/2026-boekjaar. Hermann Pretorius van die instituut sê die regering moet burokratiese hindernisse soos rasgebaseerde verkrygingsregulasies verwyder, omdat dit kragopwekking duurder maak:
# Die DA gaan vandag voor Tshwane-huis betoog ter ondersteuning van burgemeester Cilliers Brink, met die mosie van wantroue teen hom wat voortgaan. Die mosie is ingedien deur die ANC met die steun van ActionSA nadat twee vorige pogings teruggetrek is. Die ANC voer aan swak dienslewering is die rede vir Brink se verwydering. Die DA se provinsiale voorsitter, Fred Nel, sê die party is gereed om weer die opposisiebanke in te neem, indien nodig:
# Die Amerikaanse Geheimediens se vermoë om oudpresident Donald Trump in Julie te beskerm by ʼn saamtrek in Pennsilvanië is deur ʼn reeks kommunikasie-probleme gekniehalter. Dit sluit foutiewe radio’s in, en dat hulle nie gou kon kontak maak met die staats- en plaaslike polisie op die toneel nie. Dit is volgens ʼn tussentydse verslag deur die Senaatskomitee vir Binnelandse Veiligheid. Die Demokratiese komiteevoorsitter, Gary Peters, sê die Geheimediens se mislukkings het ʼn sluipmoordpoging op Trump toegelaat en dit is skokkend, onaanvaarbaar en voorkombaar.
# Swem: Chad le Clos en Lara van Niekerk is weer fiks en gaan deelneem aan die Suid-Afrikaanse kortbad-kampioenskap wat vandag in Durban begin. Die byeenkoms gee atlete die geleentheid om te kwalifiseer vir die wêreld-kampioenskap wat in Desember in die Hongaarse hoofstad, Boedapest, plaasvind. Van Niekerk is ‘n tweemalige Statebond-kampioen en Le Clos het vier Olimpiese medaljes ingepalm. Albei sal aan vyf items deelneem. Van Niekerk sê sy is op die oomblik 90-persent fiks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-159-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-659-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die vliegtuig met die oorskot van 49 teen-apartheidsaktiviste het gisteraand by die Waterkloof-lugmagbasis aangekom. Hulle was in Zambië en Zimbabwe in ballingskap. Die oorskot sluit dié van advokaat Duma Nokwe in wat een van die belangrike figure in die Weerstandsbeweging van die 50’s was, en ook dié van Florence Mophosho. Die regering hou môre ʼn amptelike tuiskoms-seremonie by Vryheidspark in Tshwane. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, sê nog gevalle helde en heldinne se oorskot sal na die land teruggebring word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….