Nuus 07:00
BULLETIN 11 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Nkosinathi Chili sal vandag verduidelik hoekom hy Zuma se aansoek geweier het
# Die Instituut vir Sosio-Ekonomies Regte kritiseer die staat oor Marikana
# En nuwe sanksies word teen Iran ingestel vir die verskaffing van missiele aan Rusland
# Oudpresident Jacob Zuma se wapentransaksie-saak hervat vandag in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg. Regter Nkosinathi Chili sal na verwagting redes verskaf waarom Zuma se tweede poging om staatsaanklaer Billy Downer van die saak te verwyder, van die hand gewys is. Chili het in Maart beslis Zuma het nie oortuig dat Downer verwyder moet word weens bewerings dat hy nie ‘n regverdige verhoor sal kry nie. Zuma staar aanklagte van korrupsie, bedrog, diefstal en afpersing in die gesig omdat hy na bewering omkoopgeld ontvang het van die Franse wapenvervaardiger, Thales, wat die tweede beskuldigde in die saak is.
# ActionSA het kommer uitgespreek oor die Departement van Justisie se versuim om die Nasionale Vervolgingsgesag in staatskaping-ondersoeke te ondersteun. Die NVG het voor die Portefeuljekomitee oor Justisie onthul ondanks beloftes deur oudminister Ronald Lamola, het hy steeds nie toegang tot belangrike bewyse nie. Matthew George van ActionSA het die behoefte aan onbeperkte toegang tot staatskapingsrekords en die beskerming van die NVG se onafhanklikheid beklemtoon:
# Die Instituut vir Sosio-ekonomiese Regte sê die versuim om diegene wat vir die Marikana-slagting verantwoordelik is aanspreeklik te hou, verraai geregtigheid. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Mahikeng ses polisiebeamptes vrygespreek het van betrokkenheid by die gebeure op 13 Augustus 2012 toe drie mynwerkers en twee polisiebeamptes dood is. Op 16 Augustus is 34 mynwerkers in Marikana doodgeskiet. Die instituut sê die staat het sy plig versuim om slagoffers se regte te handhaaf.
# ‘n Voormalige Kaapstadse burgemeesterskomiteelid verskyn na verwagting binnekort in ‘n plaaslike hof na sy inhegtenisneming in die Oos-Kaap op aanklagte van korrupsie en bedrog. Die 46-jarige Malusi Booi is verlede jaar verwyder uit die Menslike Nedersettingsportefeulje na ‘n polisieklopjag as deel van ‘n ondersoek. Booi word beskuldig dat hy kontant aanvaar het van vermeende georganiseerde misdaadlede in ruil vir inligting oor behuisingstenders. Die DA het hom uit partybedrywighede geskors, en hy het uiteindelik in Oktober bedank.
# Amerika, Brittanje, Frankryk en Duitsland het nuwe sanksies teen Iran ingestel omdat hy ballistiese missiele aan Rusland verskaf het om teen Oekraïne te gebruik. Amerika het ook sanksies ingestel teen Russiese en Iranse amptenare en maatskappye wat betrokke is by die wapenoordrag. Iran het reeds honderde hommeltuie aan Rusland voorsien wat teen Oekraïne gebruik is. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê Rusland het ballistiese missiele van Iran ontvang en sal dit waarskynlik binne weke gebruik:
# Krieket: Engeland se kaptein Jos Buttler sal die reeks van drie T20-wedstryde teen Australië misloop, wat vandag in Southampton begin. Hy sukkel met ‘n kuitbesering en die span sal gelei word deur Phil Salt. Daar is ook twyfel oor Buttler vir die eendagwedstryde, en Harry Brook sal na verwagting as kaptein oorneem as hy nie fiks is nie. Die tweede T20 word Vrydag in Cardiff gespeel en die laaste een Sondag in Manchester, gevolg deur die vyf eendagwedstryde van volgende Donderdag af tot die 29ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-923-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-518-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….