Nuus 07:00
BULLETIN 8 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom minister Macpherson se aanslag op korrupsie
# Die EFF soek duidelikheid oor die verwysingsraamwerk van die Mkhwanazi-komitee
# En Netanyahu sê Israel is van voorneme om beheer oor die hele Gaza oor te neem
# Die DA het die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, se besluit verwelkom om ‘n strafregtelike saak aanhangig te maak teen die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Dit volg na ʼn video van die aanlyn nuusblad, Daily Maverick, wat wys hoe Malaka en die trust se woordvoerder ʼn joernalis omkoopgeld van 60-duisend-rand aanbied. Edwin Macrae Bath van die DA sê Macpherson se openbare verklaring wys die trust is hervorm en korrupsie word uitgewis:
# Die EFF het aan Soviet Lekganyane, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee wat die bewerings van KwaZulu-Natal se polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi ondersoek, geskryf. Die party het kommer uitgespreek oor die komitee se konsep-opdrag, vertraging met dokumente se verspreiding aan die partye, en die regslui wat aangestel is om te help. Die EFF sê die komitee moet ʼn baie sensitiewe saak hanteer en moet te alle tye die erns toon waarmee hulle die taak benader.
# Action Society versoek die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, om dringend in te gryp met die moordsyfer in Suid-Afrika wat tans die van sommige oorlogsones oorskry. Die organisasie sê meer as 26-duisend mense is in die afgelope jaar vermoor, in vergelyking met tien-duisend burgerlike sterftes in die oorloggeteisterde Oekraïne. Action Society se woordvoerder Juanita du Preez vra Cachalia om polisiemagte toe te ken aan bekwame plaaslike regerings soos die Wes-Kaap, streng wetstoepassingstandaarde af te dwing en gespesialiseerde misdaadbestrydingseenhede in bekende brandpunte te ontplooi:
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die Stasie 5A Waterbehandelingsaanleg by Rand Water se Zuikerbosch-aanleg in Vereeniging bekendstel. Rand Water bedryf die aanleg, onder die Departement van Water en Sanitasie. Dit is die grootste in Afrika en sal watersekerheid verhoog en die groeiende aanvraag in Gauteng ondersteun. Die Presidensie sê dit stem ooreen met Ramaphosa se 2025 staatsrede-belofte om wateruitdagings aan te spreek en vorm deel van Rand Water se langtermyn-infrastruktuur- en uitbreidingstrategie.
# Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel beplan om militêre beheer oor die hele Gaza te neem. Die Verenigde Nasies waarsku dit kan rampspoedige gevolge hê, insluitend nog Palestynse sterftes en massa-ontheemding. Israel maak volgens berigte gereed vir ʼn tweefase-operasie om beheer oor Gaza-stad te neem en sowat ʼn miljoen inwoners te verwyder as tydelike maatreël om burgerlike infrastruktuur in sentraal-Gaza te vestig. Netanyahu het in ʼn onderhoud met Fox News gesê Hamas moet verwyder word:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada glo hulle moet nou die opwinding van hulle oorwinning oor Australië in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap agterlaat en daarop fokus om die land in witbalreekse te pak. Die eerste van drie T20’s word Sondag in Darwin gespeel en na die reeks volg drie eendagwedstryde. Rabada sien daarna uit om die tweestryd tussen die twee lande te hervat. Hy sê hulle beweeg nou in die rigting van die T20-Wêreldbekertoernooi en sal ‘n ander benadering hê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-880-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-382-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….