Nuus 07:00
BULLETIN 9 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Open Secrets nie tevrede met Justisie-minister se verduideliking oor VBS-bewerings nie
# Mashatile sê ANC het nog nie die Tshwane-burgemeesterskap bespreek nie
# En, die Parlement bring hulde aan die bekende digter, James Matthews
# Die organisasie sonder winsbejag, Open Secrets, sê die Justisie-minister, Thembi Simelane, se verduideliking in die Parlement oor VBS-bewerings is teleurstellend. Sy het aan die Justisie-komitee gesê sy het as Polokwane-burgemeester geen onbehoorlike voordele ontvang nie. Sy erken sy het ‘n lening van 575-duisend-600-rand van VBS Bank ontvang om ʼn koffiewinkel in Sandton oop te maak. Open Secrets se woordvoerder, Michael Marchant, sê indien Simelane nie enige ander inligting aan president Cyril Ramaphosa bekendgemaak het nie, is hy in ʼn sterk posisie om haar te vra om opsy te staan hangende ʼn volledige ondersoek.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het onderneem om seker te maak die werksomstandighede van dieregesondheidspraktisyns in die land verbeter. Suid-Afrika het tans vierduisend geregistreerde veeartse wat ver onder die internasionale aanbeveling van tussen 200 en 400 per een-miljoen mense is. Steenhuisen sê van die probleme waarmee veeartse sukkel, is onvoldoende hulpbronne en medisyne, onvoldoende vergoeding, en toenemende kommer oor geestesgesondheid.
# Die ANC se adjunkpresident, Paul Mashatile, sê die nasionale leierskap het nog nie die kwessie van Tshwane en sy burgemeesterskap bespreek nie. Dit volg nadat die party in die metro nog ʼn mosie van wantroue teen die DA-burgemeester, Cilliers Brink, ingedien het en beweer hy kan nie die nodige leierskap en politieke leiding bied nie. Mashatile, wat gister met ANC-strukture in Gauteng vergader het, sê stabiele munisipaliteite is nodig wat behoorlik werk:
# Die regering van Venezuela sê die presidentskandidaat van die opposisie, Edmundo González, het die land verlaat en soek asiel in Spanje. González het weggekruip en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik nadat die opposisie die uitslag van die presidentsverkiesing in Julie betwis het. Die regeringsbeheerde Nasionale Verkiesingsraad het Nicolás Maduro as die wenner aangewys. Volgens die visepresident van Venezuela, Delcy Rodriguez, het González enkele dae gelede in die Spaanse ambassade in Caracas gaan skuil en die Spaanse regering om politieke asiel gevra. Caracas het tot sy veilige deurgang ingestem en hy het die land verlaat.
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Márquez, het agtereenvolgende seges behaal toe hy die San Marino Grand Prix in Italië gewen het. Hy het verlede naweek in Spanje ook eerste oor die wenstreep gejaag. Vroeg in die wedstryd het ligte reën sake bemoeilik, maar die Gresini Ducati-jaer het dit tot sy voordeel gebruik. Francesco Bagnaia was tweede, Enea Bastianini derde en die Suid-Afrikaner Brad Binder was vierde. Márquez, wat Jorge Martín se voorsprong tot slegs sewe verklein het, sê hy het meer kanse gewaag in die reën:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-42-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-497-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-86-sent per vat.
# Die Parlement se voorsittende beamptes het hulde gebring aan die bekende skrywer en digter, James Matthews. Hulle beskryf hom as ʼn magtige stem in die stryd teen apartheid. Hy is op 95-jarige leeftyd in Kaapstad dood. Matthews het sy eerste bloemlesing in 1972 gepubliseer, maar dis later deur die apartheidsregering verban. Die Nasionale Vergadering se speaker Thoko Didiza, en die Nasionale Raad van Provinsies se voorsitter, Refilwe Mtshweni-Tsipane, sê Matthews se toewyding aan die vryheidstryd kan nie oorbeklemtoon word nie en Suid-Afrika skuld hom groot dankbaarheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….