Nuus 07:00
BULLETIN 6 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê hy het tyd nodig om bewerings teen die Justisie-minister te hanteer
# Die Staatsvakbond en ander eis ‘n 12% loonverhoging
# En, Netanyahu sê ‘n skietstilstand- en gyselaarooreenkoms is glad nie in sig nie
# President Cyril Ramaphosa sê hy het tyd en ruimte nodig om die VBS-verwante bewerings teen die minister van Justisie, Thembi Simelane, te hanteer. Die minister is reeds gevra om ‘n verslag aan die president voor te lê en sy verskyn vandag voor die Parlement se Justisie-komitee. Simelane het na bewering tydens haar termyn as burgemeester van Polokwane ʼn verdagte lening ontvang van ʼn maatskappy wat aan ʼn man met VBS-bande behoort. Ramaphosa sê die saak kry aandag:
# Die Vereniging van Staatsamptenare en ander vakbonde het loonsamesprekings hervat, en eis ‘n verhoging van 12-persent vir staatsamptenare weens lewenskostestygings. Op ‘n spesiale vergadering van die Staatsdiens Koördinerende Bedingingsraad het die vakbonde aangevoer staatsamptenare het die afgelope vyf jaar geen betekenisvolle loonverhoging gekry nie, wat ‘n aansienlike agterstand teenoor die verbruikersprysindeks veroorsaak. Claude Naiker van die vereniging sê die regering het die ontvangs van hulle eise erken en sal dit oorweeg voordat ‘n teenaanbod gemaak word:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement maan onderwysvakbonde om nie te staak oor posbesnoeiings in die provinsie nie. Die departement gaan weens begrotingsbesnoeiings teen die einde van die jaar twee-duisend-400 onderwysposte moet sny. Die LUR, David Maynier, sê ʼn staking verander nie die feit dat die nasionale regering slegs 64-persent gaan betaal van die salarisooreenkoms wat op nasionale vlak met vakbonde bereik is nie. Dit beteken die provinsie moet die orige 36-persent voorsien:
# Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het in die 2023/2024-boekjaar 554-miljoen-rand minder as sy begroting bestee en moet die geld aan Nasionale Tesourie terugbetaal. Dit is volgens ʼn verslag van die Ouditeur-generaal. Die departement het 6,5-miljoen-rand onregmatig bestee, transaksies goedgekeur sonder om die regte prosedures te volg, en wesenlike wanvoorstellings in sy prestasieverslag gemaak. Die Ouditeur-generaal het bevind die departement het onderbestee op sy begroting vir kinder- en gesinsprogramme, rehabilitasiedienste soos behandeling vir dwelmmisbruik, en navorsing en ontwikkeling.
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, ontken berigte dat ʼn skietstilstand- en gyselaarooreenkoms met Hamas 90-persent gereed is. Hy word toenemend beskuldig dat hy doelbewus keer dat ʼn ooreenkoms met die militante groep bereik word. Netanyahu sê geen ooreenkoms is in sig nie en voeg by Hamas is die struikelblok wat keer dat die oorlog beëindig en gyselaars in Gaza vrygelaat word. Hamas beskuldig op sy beurt vir Netanyahu en sê hy gebruik ontwykings- en misleidende taktieke om ʼn ooreenkoms te keer.
# Rugby: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het bevestig SABC TV sal nie Saterdag se Rugbykampioenskapstoets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland uitsaai nie. Hy het verlede week ʼn ooreenkoms bemiddel tussen die openbare uitsaaier en SuperSport vir die wedstryd op Ellispark maar nie vir die wedstryd in Kaapstad nie. McKenzie is voornemens om die aangeleentheid binnekort met die kabinet op te neem aangesien hy glo die regering moet omsien na die behoeftes van alle Suid-Afrikaners. Volgens hom moet mense nie uitgesluit word omdat hulle nie geld het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-716-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….