Nuus 07:00
BULLETIN 4 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi vra vir versterkte misdaadintelligensie om die afpersingskrisis te takel
# AfriForum begin ‘n veldtog om ‘n EFF-ANC-koalisie in Tshwane te keer
# En die Vlugtelingeraad doen ‘n beroep op Brittanje om meer veilige roetes vir asielsoekers beskikbaar te stel
# Rise Mzansi sê om die afpersingspandemie aan te durf vereis ‘n funksionele misdaadintelligensie-eenheid. Die party is van mening afpersingsbendes terroriseer gemeenskappe en teiken kleinsake, skole en kwesbare individue in stedelike en landelike gebiede. Makashule Gana van Rise Mzansi het die parlementêre debat gevra vir samewerking tussen misdaadintelligensie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke om sterk sake teen afpersers te bou om veiligheid in gemeenskappe te herstel:
# COPE sê die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Passasierspooragentskap, Lucky Montana, moet aanspreeklik gehou word vir sy pligsversuim en die verlies aan staatshulpbronne. Dit volg nadat Prasa se gewese hoofingenieur, Daniel Mthimkhulu, gister tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is omdat hy sy kwalifikasies en ander dokumente vervals het. COPE sê in plaas daarvan om sy vertroulike verantwoordelikhede deur noulettendheid na te kom en die instelling se integriteit te beskerm, het Montana op skaamtelose en arrogante wyse die bedrieër, Mthimkhulu, beskerm.
# COSATU verwelkom die groei in bruto binnelandse produk van 0,4-persent in die tweede kwartaal van 2024, wat ‘n effense verbetering is na ‘n geprojekteerde inkrimping. Die vakverbond gee ‘n stabiele kragvoorraad en dalende brandstofpryse krediet vir die optimisme. Hulle waarsku egter die ekonomie bly broos. Die vakverbond vra die regering om instandhouding deur Eskom op te skerp, infrastruktuur te moderniseer en indiensnemingsprogramme uit te brei. Cosatu moedig die beëindiging aan van besuiniging, meer belegging in die kapasiteit van die staat, en inisiatiewe vir ekonomiese groei.
# AfriForum het met ʼn veldtog begin om te verhinder dat ʼn EFF-ANC-koalisie beheer neem oor die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit. Hierdie inisiatief volg op ActionSA se oorweging om by die ANC en EFF aan te sluit om die DA-burgemeester, Cilliers Brink, uit die kussings te lig. Woordvoerder Ernst van Zyl versoek die publiek om ʼn versoekskrif te onderteken wat daarop gemik is om stabiliteit in die bestaande koalisie in die metro te behou:
# Die Vlugtelingeraad vra die Britse regering om meer veilige roetes vir asielsoekers oop te stel om die land binne te gaan. Dit volg nadat minstens 12 mense dood is toe hulle boot gister aan die Franse kus in die Engelse Kanaal gesink het. Meer as 60 is gered. Dis die dodelikste ramp vanjaar in die Kanaal. Die raad sê mense waag hul lewens uit desperaatheid om aan geweld en vervolging te ontsnap. Hy sê daarom moet daar doeltreffende en menslike maniere gevind word vir dié wat beskerming soek.
# Krieket: Engeland se toetsafrigter, Brendon McCullum, is van Januarie 2025 ook Engeland se witbal-hoofafrigter Hy vervang die Australiër, Matthew Mott, wat ná die T20-wêreldbeker uitgetree het. Marcus Trescothick is die witbalspan se tussentydse hoofafrigter vir die reekse teen Australië en die Karibiese Eilande later vanjaar. McCullum het ook sy kontrak tot die einde van 2027 verleng.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-623-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-493-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….