Nuus 07:00
BULLETIN 30 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika berei nog voorleggings voor vir die Wêreldhof
# Atletiek: Udeme Okon wen goud by die O.20-kampioenskap
# En ‘n jong leeuwyfie wat in Oekraïne gered is, gee haar eerste treë op gras
# Suid-Afrika berei ‘n voorlegging van 500 bladsye oor die Hamas-Israel-konflik vir die Internasionale Strafhof voor, wat daarop gemik is om die werklikheid van volksmoord in Gaza te bewys. President Cyril Ramaphosa sê die saak sal weergawes van ooggetuies insluit om Suid-Afrika se aanspraak van volksmoord te steun, in lyn met die land se verbintenis tot die mense van Palestina en sy kernwaardes:
# Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet is die jongste organisasie wat president Cyril Ramaphosa vra om die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, te skors. Die minister het ‘n lening van meer as 500-duisend-rand ontvang van ʼn maatskappy wat na bewering betrokke was by onwettige transaksies met VBS Mutual Bank. Simelane het volgens berigte as burgemeester van Polokwane twee onregmatige beleggings namens die munisipaliteit by die bank gemaak. Die raad se woordvoerder, Lawson Naidoo, sê elke dag wat verbygaan sonder optrede teen die minister, skend Ramaphosa se geloofwaardigheid.
# Die Departement van Binnelandse Sake het begin met die digitale aflewering van die uitkoms van visumkwytskeldings per e-pos, en eerste aan die beurt is die houers van die kwytskeldingspermit vir Zimbabwiërs. Die stap is deel van die departement se digitale transformasiepogings om dienslewering te verbeter en korrupsie te verminder. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die digitale proses wil die aansienlike agterstand van meer as 306-duisend aansoekers uitwis en sal uiteindelik uitgebrei word na ander visumaansoekers:
# Skoolbeheerliggame van 32 skole in Eldoradopark, Freedom Park en Klipspruit-Wes dreig om skole vyf dae lank te sluit as Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, nie vandag op hul eise reageer nie. Hulle eis dat die LUR beter en meer sigbare veiligheidspersoneel by die 32 skole aanstel, vermeende skobbejakke skors en psigososiale ondersteuning voorsien. ʼn Leerder is twee weke gelede by die Lancea Vale Secondary School in Eldorado met ʼn skerp voorwerp gesteek. Die beheerliggame sê bendelede en misdadigers gebruik skole as deurgang.
# Atletiek: Udeme Okon van Suid-Afrika het die goue medalje opgeraap in die mans se 400 meter-item by Wêreldatletiek se Onder 20-kampioenskap in Lima, Peru. Die 19-jarige atleet het die Amerikaners, Jayden Davis en Sidi Njie, in 45,69-sekondes gewen. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Bayanda Walaza wat reeds goud gewen het in die 100-meter, het in 21 sekondes die vinnigste tyd in sy uitdun aangeteken en deurgedring na die finaal. Sy landgenoot, Temoso Masikane, ding vandag mee in die mans se verspring-finaal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-207-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Jong leeuwyfie wat uit aanhouding gered is in die oorloggeteisterde Oekraïne het haar eerste tree op gras in Kent in Engeland gegee. Die driejarige Yuna is in ‘n klein hokkie aangehou sedert die oorlog meer as twee jaar gelede uitgebreek het. Sy is getraumatiseerd toe puin van ‘n missielaanval 300-meter van haar hok af geland het. Yuna het vroeër die maand by die Big Cat Sanctuary aangekom en is ‘n week lank binne gehou voordat sy kon uitgaan. Die skuiling samel tans fondse in om nog vier leeus uit Kiev na Kent te bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….