Nuus 07:00
BULLETIN 7 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê daar was geen politieke inmenging by die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie nie
# Die DA ontbloot ‘n luukse SANDF-vlug van 34-miljoen-rand na Kuba
# En gholf: Daar is sterk Suid-Afrikaanse spanne vir die 2025 Wêreld-amateurspankampioenskappe
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê tot dusver was daar geen politieke inmenging by sake wat die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie hanteer nie. Sy het gereageer op ‘n parlementêre vraag van die EFF oor die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings van die uitvoerende gesag se inmengery en onbehoorlike politieke insae by ondersoeke. Kubayi sê daar is voldoende wigte en teenwigte in plek om enige moontlike inmengery van binne of buite te voorkom.
# Die DA sê die Departement van Verdediging het byna 34-miljoen-rand gemors op ‘n luukse huurvlug na Kuba om ‘n gradeplegtigheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag by te woon wat geen operasionele waarde ingehou het nie. Die vlug het meer as 200 personeellede ingesluit, met minstens 25 generaals wat besigheidsklas gevlieg het, soos konings geëet het en luukse geriewe gehad het, terwyl duikbote steeds gehok is, soldate sonder basiese toerusting sukkel, en verskaffers nie betaal word nie. Die DA-lid, Chris Hattingh, doen ‘n beroep op die Openbare Beskermer om die verkwistende uitgawes te ondersoek:
# Die Presidensiële Klimaatkommissie het met die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, vergader om Suid-Afrika se hersiene nasionaal bepaalde bydrae te bespreek. Die hersiening, wat onlangs deur die Kabinet goedgekeur is, is nou oop vir openbare kommentaar voor die voorlegging aan die VN in Oktober. Die nasionaal bepaalde bydrae strek vanaf 2031 tot 2035 en beoog dringender klimaatoptrede. Die Presidensiële Klimaatkommissie moedig alle belanghebbendes aan om deel te neem aan die besprekings om inklusiewe insette te verseker vir die land se klimaat-veerkragtige, lae-koolstof ekonomie.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê talle skole in die provinsie word geraak deur onstabiele grond, lugbesoedeling en onwettige en wettige mynbedrywighede. In sommige gevalle is skole verskuif of in rehabilitasieprogramme geplaas weens kommer oor veiligheid. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê ná assessering gaan hulle met rehabilitasieprogramme begin by 13 skole in gebiede soos Gauteng-Wes, Centurion en Ekurhuleni-Suid wat probleme ondervind weens dolomitiese grondtoestande:
# Die meeste organisasies wat hulp in Gaza verleen, sal waarskynlik binne weke hul bedrywighede moet staak tensy Israel sy eis onttrek dat hulle sensitiewe inligting oor Palestynse werkers verskaf. Dit is volgens die Humanitêre Landspan in die Palestynse gebied. Nieregeringsorganisasies wat nie onder die nuwe stelsel geregistreer is nie, mag reeds nie enige voorrade na Gaza stuur nie. Die VN maan Israel om sy eis te heroorweeg en sê internasionale wette word oortree wanneer hulle werk belemmer word.
# Gholf: Twee sterk spanne is gekies om Suid-Afrika in Oktober by die Wêreld-amateurkampioenskap in Singapoer te verteenwoordig. Megan Streicher, Bobbi Brown en die nuweling Kyra van Kan sal probeer om die vroue se Espirito Santo-trofee te wen waarmee Suid-Afrika in 2006 weggestap het. Die land se voorste amateur, Christiaan Maas, sal die derde keer meeding vir die mans se Eisenhower-trofee. Die nuwelinge Dan Bennett en Charl Barnard sluit ook by hom aan. GolfRSA se uitvoerende hoof, Grant Hepburn, het die diepte van talent in die nasionale spanne geprys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-668-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-366-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….