Nuus 07:00
BULLETIN 28 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF eis ook die bedanking van minister Simelane
# Honderde wilde diere word in Namibië van kant gemaak om honger mense te voed
# En krieket: Die Wes-Indiese Eilande maak skoonskip in die T20-reeks teen die Proteas
# Die EFF vra dat die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, onmiddellik bedank. Sy het volgens berigte meer as 500-duisend-rand ontvang van ‘n maatskappy wat as makelaar sake met VBS Mutual Bank gedoen het, en wat tot die bank se ondergang gelei het. Sy was toe burgemeester van Polokwane. Die EFF sê Simelane se optrede is nie net oneties nie, dis misdadig. Hy voeg by indien die minister aanbly, word die integriteit van die VBS-ondersoek bedreig en die soeke na geregtigheid word ondermyn.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra onmiddellike hervormings na die ontstellende verslag deur die ouditeur-generaal oor munisipale finansiële bestuur. Die verslag onthul wydverspreide finansiële wanbestuur, swak toesighouding, onvoldoende interne beheer, infrastruktuur wat agteruitgaan, en swak dienslewering in munisipaliteite, met net 13 munisipaliteite wat skoon oudits gekry het. Julius Kleynhans van OUTA sê die hantering van kwessies soos swak projekbestuur en ongeoorloofde besteding is noodsaaklik vir die herstel van openbare vertroue en die verbetering van plaaslike regering:
# Die DA vra kiesers om munisipaliteite wat swak vaar in die volgende plaaslike regeringsverkiesings verantwoordbaar te hou. Dit volg na die verslag van die ouditeur-generaal waarin bykans 70-persent van munisipaliteite in die Wes-Kaap vir 2022/2023 skoon oudits ontvang het. ‘n Woordvoerder van die DA, Dave Bryant, prys die provinsie vir sy sterk regering in teenstelling met finansiële uitdagings in munisipaliteite buite die provinsie:
# Die Johannesburgse Padagentskap hou vol hy het die regte prosesse gevolg om Step Up Engineering aan te stel. Dit sluit ʼn ontleding van die maatskappy se finansiële toestand in. Die maatskappy wat aangestel is om Lillian Ngoyi-straat te herstel, is weens swak prestasie afgedank. Dele van die straat in die middestad het in Julie verlede jaar ingestort ná ʼn ondergrondse metaangas-ontploffing. Die agentskap het die sperdatum vir die voltooiing van fase een met nog ses maande uitgestel omdat hy ʼn ander kontrakteur moet aanstel om die projek af te handel.
# Die Namibiese regering het aangekondig dat honderde wilde diere, insluitend meer as 80 olifante, van kant gemaak gaan word, om die vleis te versprei aan mense wat weens ‘n ernstige droogte sukkel om te oorleef. Die regering sê die diere word in parke en gemeenskaplike gebiede geskiet waar daar te veel diere vir weiveld en water is. Volgens Reuters sal byna die helfte van Namibië se bevolking voor die volgende reënseisoen waarskynlik hoë vlakke van voedselonsekerheid ervaar. Professionele jagters het reeds seekoeie, buffels, rooibokke, blouwildebeeste, sebras en elande begin skiet.
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande het Suid-Afrika met agt paaltjies verslaan in die laaste T20-wedstryd in Trinidad, en die reeks met drie-nul gebuit. Die wedstryd is weens reën beperk tot 13 boulbeurte per span. Die Proteas is ingestuur om eerste te kolf, en het 108 vir vier aangeteken met Tristan Stubbs wat 40 lopies bygedra het. Romario Shepherd het twee paaltjies platgetrek. Die Wes-Indies se teiken is deur die Duckworth-Lewis-metode op 116 vasgestel. Die gashere het net meer as 9 boulbeurte nodig gehad om met 116 vir twee te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-301-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….