Nuus 07:00
BULLETIN 26 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die datum is bevestig vir die parlementêre debat oor Eskom se tariefverhoging
# Die leier van Hisbolla waarsku oor verdere aanvalle teen Israel
# En krieket: Die Wes-Indiese Eilande klop Suid-Afrika in die tweede T20
# Die speaker in die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die debat oor Eskom se voorgestelde verhoging van die elektrisiteitsprys wat by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika ingedien is, sal op 3 September plaasvind. Die DA het die dringende debat aangevra. Kevin Mileham van dié party sê hulle moet bespreek of dit wettig is vir Eskom om ‘n vier-persent-styging te hef wat hy volgende jaar deur sy gereguleerde verrekeningsrekening wil verhaal:
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, sê aanvalle op polisiebeamptes is ‘n daad van ondermyning van die staat se gesag, en die Valke sal voortgaan om doeltreffend teen dié soort misdaad op te tree. Lebeya het die media ingelig oor die arrestasies wat in die eerste kwartaal van die 2024/2025-boekjaar gemaak is. Hy sê 21 polisielede is in die eerste kwartaal vermoor, met 16 wat van diens af was en vyf aan diens:
# Johannesburg se burgemeester Dada Morero sê die stad het die nasionale regering om hulp genader om die groot aantal gekaapte geboue te hanteer. Dit volg nadat ʼn brand vroeg gisteroggend in ʼn drieverdieping-gebou in Jeppestown uitgebreek het. Vier mense is dood in die brand wat vermoedelik deur ʼn onwettige elektrisiteitsverbinding veroorsaak is. Morero sê hulle het rede om te glo die gebou is as misdaadsentrum gebruik:
# Hisbolla-leier Hassan Nasrallah waarsku dat meer aanvalle op Israel uitgevoer gaan word. Dit volg nadat Israel aanvalle, wat hy as voorkomend beskryf, in Libanon uitgevoer het en Hisbolla honderde vuurpyle op Israel afgevuur het. Nasrallah sê sy weerwraak na die sluipmoord op sy militêre bevelvoerder, Fuad Shukr, is vertraag weens Israel en Amerika se militêre mobilisering in die gebied. Hy sê hulle wag om te sien wat die uitslag is van die voortgesette skietstilstand-onderhandelings tussen Israel en Hamas voor hulle besluit wat om volgende te doen.
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande het Suid-Afrika met 30 lopies verslaan en loop met twee-nul voor in die reeks van drie T20-wedstryde in Trinidad. Die gashere wat ingestuur is om eerste te kolf, het ʼn teiken van 179 vir ses in hul 20 boulbeurte gestel met Shai Hope wat 41 bygedra het. In reaksie daarop het Reeza Hendricks 44 van 18 balle aangeteken. Die speler van die wedstryd, Romario Shepherd, het egter drie paaltjies vir 15 lopies platgetrek en die Proteas is in net meer as 19 boulbeurte op 149 almal uit. Die laaste T20 vind môre plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-895-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-50-sent per vat.
# En laastens: Twee Nasa-ruimtevaarders wat al meer as twee maande in die ruimte gestrand is, sal in Februarie 2025 met SpaceX terugkeer aarde toe. Sunita Williams en Barry Wilmore het op 5 Junie op ‘n agt dae lange sending na die Internasionale Ruimtestasie vertrek, maar sal nou ongeveer agt maande in ‘n wentelbaan deurbring. Die Starliner het probleme ondervind op pad na die ruimtestasie, insluitend lekkasies van helium en aandrywers wat nie behoorlik gewerk het nie. Ingenieurs by Boeing en Nasa probeer om die tegniese probleme met die tuig op te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….