Nuus 07:00
BULLETIN 24 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa herbevestig die regering se toewyding tot ekonomiese groei en dienslewering
# Amerikaanse rentekoersverlagings is in die vooruitsig
# En, rugby: Griekwas laat die Bulle sweet in hulle Curriebeker-kragmeting
# President Cyril Ramaphosa het die regering se verbintenis bevestig tot ekonomiese groei en verbeterde dienslewering. Hy het gepraat op ‘n presidensiële imbizo in Tsakane, Ekurhuleni, en gesê sterk munisipaliteite is noodsaaklik vir die aanvuur van ontwikkeling en werkskepping. Hy gee erkenning aan Ekurhuleni se rol as ‘n sleutel-ekonomiese spilpunt. Ramaphosa gee die versekering pogings teen die uitdagings met water, elektrisiteit, behuising en veiligheid bly topprioriteite:
Die president het ook die presidensiële izimbizo verdedig, en sê skakeling met die publiek is deurslaggewend vir doeltreffende bestuur. Hy beklemtoon die byeenkomste is nie ‘n vermorsing van tyd of geld nie, maar eerder noodsaaklik om burgers se kommer aan te hoor en die regering se prioriteite te bepaal. In sy slotrede in Ekurhuleni het Ramaphosa gesê insette van die publiek help om uitdagings te pak soos werkloosheid, dienslewering en infrastruktuur-ontwikkeling:
# Die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, Jerome Powell, sê dit het tyd geword vir ‘n verlaging in sy sleutel rentekoers, met kenners wat sê leningskoste kan so vroeg as volgende maand daal. Powell het gister die Kansas City Federale Reserweraad se jaarlikse konferensie in Jackson Hole, Wyoming, toegespreek en sy voornemens duidelik gemaak om verdere afkoeling in die arbeidsmark te voorkom. Hy sê die tydsberekening en die tempo waarteen koersverlagings ingestel sal word, sal afhang van die data wat inkom, die vooruitsigte, en die risiko-balans.
# Rugby: Dit was nie maklike sege vir die onoorwonne Bulle in gisteraand se Curriebekerwedstryd teen Griekwas op Loftus Versfeld nie. Die besoekers het vroeg in wedstryd met 14 – 0 voorgeloop, maar die span van Pretoria het uiteindelik sewe drieë ingeryg om die Griekwas met 47-24 pak te gee vir ‘n bonuspunt-oorwinning. Vanmiddag om drieuur is dit die Westelike Provinsie wat die Haaie in Kaapstad verwelkom, die Cheetahs en die Leeus pak mekaar vyfuur in Bloemfontein. Môre is die Griffons die gashere vir die Pumas in Welkom.
# En om mee af te sluit: Die provinsiale regering in Gauteng het gister sy verbintenis tot etiese regering en verkrygingshervormings op die derde herdenking van die sluipmoord op Babita Deokaran herbevestig. Nuwe maatreëls sluit in verpligte hersiening van tenders tussen 500-duisend- en een-miljoen-rand deur die Provinsiale Tesourie en ‘n vooraf-voldoening van die kontrolelys vir Versoek vir Kwotasies. Woordvoerder Vuyo Mhaga sê hierdie stappe is daarop gemik om ter ere van Deokaran, voldoening, deursigtigheid en pogings teen korrupsie te verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….