Nuus 07:00
BULLETIN 23 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Bosbou sê dis belangrik dat die publiek ag slaan op weerwaarskuwings
# Eskom en Sasol onderteken ‘n Memorandum van Verstandhouding om die voorsiening van gas te verseker
# En krieket: Die Proteas kry ’n troosprys teen Afghanistan
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh, waarsku die publiek om aandag te gee aan weerwaarskuwings en hul planne, insluitend reisplanne, daarvolgens aan te pas. Gauteng, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Oos-Kaap het die naweek groot dalings in temperatuur beleef en berigte van sneeu is ontvang. Twee mense is dood nadat hulle op die N3 in die KwaZulu-Natalse Middelland in sneeu vasgekeer is en verkluim het. Die departement se woordvoerder, Peter Mbelengwa, sê reddingspogings in dele van die land gaan voort:
# Die United Africans Transformation het ‘n beroep op die Spesiale Ondersoekeenheid en Ouditeur-generaal gedoen om toenemende afpersing in munisipaliteite te ondersoek. Daar is onthul korrupte amptenare eis omkoopgeld van ondernemings in ruil vir betalings, wat dienslewering ontwrig en ekonomiese groei belemmer. Die party se woordvoerder, Mighty Mabule, het ook konstruksie-mafias veroordeel omdat hulle infrastruktuurprojekte ontwrig deur beskermingsfooie te eis:
# Eskom en Sasol het ‘n verstandhoudingsooreenkoms onderteken om saam te werk om gasvoorsiening te verseker met Suid-Afrika wat ʼn dreigende gasverskaffingkrisis in die gesig staar. Die ooreenkoms fokus op aanvanklike navorsing ter wille van die vraag na huishoudelike gas. Sasol waarsku hy maak gereed vir krimpende voorraad en mag reeds teen Junie 2026 nie meer gas voorsien nie. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, beklemtoon die belangrikheid van gas as ʼn laer-koolstof-energiebron en ʼn manier om die netwerk te stabiliseer te midde van toenemende gebruik van hernubare energie.
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, waarsku dat die Emfuleni-munisipaliteit ʼn diensleweringskrisis in die gesig staar. Dit volg nadat die balju van die hof vroeër die maand suksesvol beslag gelê het op die munisipaliteit se vier bankrekenings om seker te maak die geld wat vir elektrisiteit ingevorder is, word regstreeks aan Eskom betaal. Emfuleni skuld die kragvoorsiener agt-miljard-rand. Dit is sowat tien-persent van die totaal van 82-miljard-rand wat munisipaliteite skuld. Maile sê die situasie is kommerwekkend:
# Die nuus-uitsaaier, Al Jazeera, het Israel se militêre klopjag op sy kantoor in die Wesoewer en die sluiting daarvan as ʼn misdaad beskryf. Israeli-magte het ʼn aanvanklike bevel uitgereik dat die kantoor in Ramallah 45 dae lank gesluit bly. Israel se regering het Al Jazeera in Mei verbied om vanuit die land uit te saai. Al Jazeera sê Israel se voortgesette onderdrukking van ʼn vrye pers wil sy optrede in die Gaza-strook verdoesel en dis ʼn skending van internasionale en humanitêre reg.
# Krieket: Suid-Afrika het Afghanistan met sewe paaltjies afgeransel in die derde en laaste internasionale eendagwedstryd by die Sharjah-krieketstadion. Die tuisspan wat reeds die reeks beklink het, is op 169 almal uit met Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo en Nqaba Peter wat elkeen drie paaltjies platgetrek het. Rahmanullah Gurbaz het met 89 die meeste lopies behaal. In antwoord daarop het Aiden Markram 69 aangeteken en die Proteas het die teiken in 33 boulbeurte gehaal. Kaptein Temba Bavuma sê hy is tevrede met hulle algemene prestasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-826-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-620-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….