Nuus 07:00
BULLETIN 23 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die ondertekening van die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms
# Die Parlement se Begrotingskomitee is bekommerd oor mediese regseise
# En ‘n Michelin-ster restaurant draai die pryshorlosie 30 jaar terug
# Die DA kritiseer die ondertekening van die tweede Presidensiële Gesondheidsooreenkoms, en wys op groot teenstand teen die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering. Michele Clarke van die DA prys groepe soos Business Unity South Africa en die South African Health Professionals Collaboration wat weier om die ooreenkoms te onderteken. Sy hou vol die Gesondheidsooreenkoms ondermyn ware samewerking en is bloot ‘n dwang-taktiek:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Begrotings het ernstige kommer uitgespreek oor die stygende aantal mediese regseise teen die Gesondheidsdepartement. Die komitee is veral besorg oor die gesamentlike uitbetaling van 77-miljard-rand aan vergoeding. Die Oos-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en Limpopo het die meeste eise teen hulle. Dit het gelei tot aansienlike uitbetalings vir forensiese ondersoeke, regskoste en hofskikkings. Die komitee se voorsitter, Mmusi Maimane, sê hierdie finansiële las veroorsaak groot verliese wat staatsfondse betref en beklemtoon sistemiese kwessies in die gesondheidstelsel.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die moontlike tariefverhoging van 40-persent wat Eskom voorsien, behoort die Ekurhuleni-munisipaliteit aan te moedig om minder afhanklik van die kragvoorsiener te word. Eskom het vir volgende jaar ‘n tariefverhoging van 36-persent gevra bykomend tot die vier-persent heffing deur sy regulerende verrekeningsrekening. Die VF Plus sê indien die verhoging ingestel word, sal dit een van die grootste finansiële terugslae wees wat inwoners en sakeondernemings in ʼn reeds sukkelende ekonomie moet verwerk.
# Die drukgroep South African Boycott, Divestment, and Sanctions Coalition vra Glencore om steenkooluitvoere na Israel te beëindig, en beskuldig die mynmaatskappy dat hy Israel se militêre optrede steun. Die groep meen die maatskappy dra by tot volksmoord en die onwettige besetting van Palestina. Roshan Dadoo van die koalisie doen ‘n beroep op die regering om ‘n totale steenkool-verbod af te dwing in ooreenstemming met internasionale wetgewing, en aandadigheid te keer aan die skending van menseregte:
# Motorsport: Die heersende Formule Een-kampioen, Max Verstappen, sê hy is nie oorgerus oor sy vooruitsig om die naweek sy tuis-wedren, die Nederlandse Grand Prix, te wen nie. Die Red Bull-renjaer met 78 punte is voor Lando Norris van McLaren in die Bestuurderskampioenskap. Sedert sy terugkeer in 2021, het Verstappen elke Nederlandse Grand Prix gewen. Die 26-jarige jaer wat Sondag by Zandvoort aan sy 200ste Grand Prix deelneem, sê dit was tot dusver ʼn ongelooflike ervaring:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-775-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-490-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-18-sent per vat.
# En ten slotte: Een van Londen se hoogs aangeskrewe Michelin-sterrestaurante laat pryse van 30-jaar gelede herleef. Tussen 9 en 27 September sal die kokke by St John, in Smithfield, klante dieselfde laat betaal as toe die restaurant se deure die eerste keer in 1994 geopen is. ‘n Porsie smeltkaas op roosterbrood, oftewel Welsh rarebit, sal beskikbaar wees teen 3-pond-50, nagenoeg 83-rand; terwyl geroosterde beenmurg en pietersielieslaai mense 4-pond-20, omtrent 99-rand, sal kos. St John is een van Londen se grootste voorstanders van die snoet-tot-stert-kookkuns.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….