Nuus 07:00
BULLETIN 22 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onderwysdepartement ontken daar is korrupsie in sy skoolvoedingsprogram
# Suid-Afrika se landbousektor teken ‘n handelsoorskot van 26-miljard-rand aan
# En Antony Blinken sê ‘n skietstilstand in Gaza is dringend noodsaaklik
# Die Departement van Basiese Onderwys ontken bewerings van korrupsie met die vernuwing van die Nasionale Skoolvoedingsprogram. Hulle verwerp bewerings van inmengery in die tenderproses. Direkteur-Generaal, Mathanzima Mweli, sê die moderniseringsproses, wat veronderstel is om die doeltreffendheid en die waarde van die program te verbeter, is omvattend ondersoek en voldoen aan regstandaarde. ‘n Woordvoerder van die departement, Terence Khala, sê die proses was wettig en daarop gemik om leerders, klein ondernemings en plaaslike ekonomieë te bevoordeel:
# Suid-Afrika se landbousektor het in die tweede kwartaal ‘n 26-miljard-rand handelsoorskot aangeteken, ondanks ‘n jaar-tot-jaar-afname van ses-persent. Die Landbousakekamer van Suid-Afrika skryf dit toe aan laer pryse en ‘n afname in produksievolumes, veral ten opsigte van graan en oliesade. Sitrus, mielies, appels en wyn is onder die top-uitvoere. Agbiz lig verbeterde hawedoeltreffenheid uit en moedig beleidmakers aan om logistiek te verbeter, sleutelmarkte te behou en uitvoere uit te brei na strategiese markte soos Japan en Suid-Korea.
# Die DA in Gauteng het kommer uitgespreek oor die Stad Johannesburg se toekoms. Dit volg nadat Nobuhle Mthembu van ActionSA as speaker van die raad verkies is bo haar teenstander, die DA-lid Nonhlanhla Sifumba. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die koalisievennote wat deel is van die regerende koalisie, kan nie saamstem oor kwessies wat ‘n regstreekse impak op inwoners het nie:
# Die DA-leier John Steenhuisen en Vryheidsfront Plus-leier Pieter Groenewald het onlangs vergader om koalisies in die Wes-Kaap te bespreek. Hulle het saamgestem dat wankelrige plaaslike ANC-koalisieverhoudings nadelig vir die betrokke gemeenskappe is en dat koalisies waarvan die DA en VF Plus deel is, gestabiliseer moet word. Die hoofleiers sê plaaslike leiers in die gemeenskappe wat geraak word, se insette sal gebruik word om die probleme se oorsaak te bepaal en vriendskaplike oplossings te vind. Albei partye is daartoe verbind om dienslewering en goeie munisipale bestuur te verseker.
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê daar moet dringend ʼn skietstilstand in Gaza afgekondig word en Israelse gyselaars moet vrygelaat word. Blinken het sy besoek aan die Midde-Ooste afgesluit en herhaal dat Israel ʼn Amerikaanse voorstel ondersteun om die ernstige verskille tussen Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, en Hamas te oorkom. Egipte en Katar werk saam met Amerika om ʼn skietstilstand te bewerkstellig wat volgens diplomate sal bydra om ʼn groter krisis, wat Iran en Hisbolla in Libanon betrek, te voorkom.
# Krieket: Australië se Noordelike Gebied-krieket hoop volgende jaar se witbalreeks tussen die Proteas en die Australiese span sal internasionale krieket na Darwin laat terugkeer. Die stad het in 2008 die laaste van sy vier eendagtoetse aangebied. Australië en Suid-Afrika speel in Augustus volgende jaar in drie eendagwedstryde en drie T20’s teen mekaar en die uitvoerende hoof, Gavin Dovey, onderhandel met Krieket Australië vir wedstryde in Darwin. Hy sê dit is een van die min plekke in Australië wat ideaal is vir winterkrieket.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-867-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-507-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….