Nuus 07:00
BULLETIN 6 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe sê Suid-Afrika moet sy uitvoermarkte diversifiseer
# Parlement sê die Departement van Vervoer is op die regte pad
# En rugby: Siya Kolisi vra Suid-Afrikaners om die Bok-vroue tydens die Wêreldbeker te ondersteun
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê die 30-persent tariefverhoging op Suid-Afrika se uitvoere na Amerika is ‘n desperate poging van ʼn mag wat voel sy invloed raak minder. Die regering waarsku die tariewe kan die land sowat 30-duisend werksgeleenthede kos. Amerika is Suid-Afrika se derde grootste handelsvennoot. Mantashe sê die oplossing is dat Suid-Afrika sy afhanklikheid van enige enkele mark verminder:
# Die Forum for South Africa het ‘n beroep gedoen op die waarnemende minister van die Polisie, Firoz Cachalia, om korrupsie binne die polisie te beveg en van politieke slagvelde af weg te bly. Die organisasie waarsku dat misdaad nie sal verminder terwyl korrupte beamptes in uniform is nie. Tebogo Mashilompane van die Forum moedig Cachalia aan om ‘n gespesialiseerde eenheid te skep wat korrupte beamptes beveg en sterker beskerming vir fluitjieblasers voorsien:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Vervoer sê die departement is op die regte pad om dienslewering te verbeter. Die departement het in die 2024/2025-boekjaar sy eerste skoon oudit in 31 jaar van die Ouditeur-generaal ontvang. Die komiteevoorsitter, Donald Selamolela, sê oudituitkomste alleen beteken nie noodwendig dat verbruikers beter of bevredigende diens ontvang nie. Hy sê die departement moet dus meer doen en seker maak mense is tevrede met die staat se dienste in die portefeulje.
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het die Departement van Gemeenskapsveiligheid se hoof, Nontsikelelo Sisulu, en finansiële hoof, Mduduzi Malope, met onmiddellike ingang geskors. Dit volg na ʼn forensiese ondersoek deur die Provinsiale Forensiese Ouditeenheid in die premier se kantoor. Die ondersoek het op finansiële onreëlmatighede in die departement afgekom. Die provinsiale regering se woordvoerder, Vuyo Mhaga, sê deur proaktiewe en regstellende maatreëls sal hulle bestuur versterk en seker maak staatsfondse word eties en verantwoordelik aangewend:
# Die Republikeins-geleide Huis-oorsigkomitee het tien individue gedagvaar vir geslote verklarings oor die seksoortreder Jeffrey Epstein. Dit sluit die gewese Amerikaanse president, Bill Clinton, en sy vrou en voormalige minister van Buitelandse Sake Hillary Clinton, ses gewese prokureurs-generaal insluitend Merrick Garland en William Barr, en twee voormalige FBI-direkteure in. Wetgewers soek inligting by die Clintons weens die voormalige president se kontak in die vroeë 2000’s met Epstein en sy vennoot, Ghislaine Maxwell. Die verklarings sal tussen Augustus en middel-Oktober afgeneem word.
# Rugby: Die kaptein van die Springbok-manspan, Siya Kolisi vra dat Suid-Afrikaners die nasionale vroue-span met oorgawe moet ondersteun gedurende die Wêreldbeker wat op die 22ste in Engeland begin. Hulle speel teen Brasilië, Italië en Frankryk in Groep D. Die Bok-vroue het in 2021 al hulle wedstryde in die toernooi verloor, maar Kolisi glo hulle kan hierdie jaar die kwarteindronde haal. Hy het die span geloof vir hulle verbetering die laaste paar maande. Die Bokke se assistentafrigter, Mzwandile Stick, sê omdat die vroue die voorwedstryde vir manswedstryde gespeel het, het hulle meer blootstelling geniet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-668-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-378-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….