Nuus 07:00
BULLETIN 17 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa onderteken die elektrisiteit-hervormingswet en baan die weg vir ‘n mededingende energiemark
# ‘n Senior Zelensky-amptenaar sê die Kursk-aanval sal Rusland dwing om te onderhandel
# En in rugby, daar is vandag Wêreldranglys-druk op die Bokke en die All Blacks
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op die Regulering van Elektrisiteit onderteken wat groot hervormings meebring vir die elektrisiteitsektor. Die nuwe wet wil ‘n mededingende mark vir elektrisiteit skep, hernubare energie bevorder en energiekostes verminder. Dit bepaal ook binne vyf jaar die skepping van ‘n onafhanklike operateur vir ‘n transmissiestelsel. Presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya sê hierdie hervormings is deel van die breër energie-aksieplan om langtermyn energiesekerheid te verseker en beurtkrag te beëindig:
Eskom het intussen bevestig beurtkrag is nou al vir 142 agtereenvolgende dae, sedert 26 Maart vanjaar, opgehef. Die woordvoerder, Daphne Mokoena, sê die nutsmaatskappy se operasionele herstelplan vir opwekkings het dieseluitgawes met 74-persent ingekort wat ‘n besparing van 10,21-miljard-rand verteenwoordig. Eskom se verbeterde bedryfsdoeltreffendheid het ook ‘n aansienlike daling in onbeplande onderbrekings tot gevolg gehad:
# Die DA versoek die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, om te druk vir betekenisvolle hervormings binne die SAOG by die 44ste Beraad vir Staats-en Regeringshoofde in Zimbabwe. Woordvoerder Emma Powell beklemtoon die dringende behoefte om die SAOG-tribunaal opnuut te vestig, sy onafhanklikheid te verstewig en die besluitnemingsmagte van die administratiewe vleuel van die organisasie te verbeter. Sy vra ook vir hervorming van die dubbel-troikastelsel om te voorkom lidlande ry streeksvooruitgang in die wiele.
# ‘n Senior amptenaar in die kantoor van die Oekraïnse president Volodymir Zelensky, sê die doel van die inval in die Russiese Kursk-streek is om Moskou na die onderhandelingstafel te dwing en met vredessamesprekings te begin. Mykhailo Podolyak sê die inval sal openbare menings ook beïnvloed want Russiese burgers is geskok oor die Oekraïnse magte se vermoë om Russiese grondgebied binne te dring. Inwoners van Pokrovsk in die Donetsk-streek is intussen aangesê om te ontruim. Russiese magte nader glo die buitewyke na intense gevegte die afgelope paar dae.
# En, Rugby: Ierland sal Suid-Afrika boaan die wêreldranglys vervang as die Springbokke vandag teen Australië verloor in hulle Rugbykampioenskapstoets in Perth. ‘n Gelykop-uitslag sal die Iere ook die wêreldkampioen laat verbysteek. Die Wallabies sal van negende tot agste plek verbeter as hulle wen. As die All Blacks weer teen Argentinië verloor, sal hulle afskuif na vierde plek. Nieu-Seeland en die Pumas skop net na nege vanoggend in Auckland af, gevolg deur die Bokke en die Wallabies kwart-voor-twaalf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….