Nuus 07:00
BULLETIN 16 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die SAUK vergiftig miljoene met die regering van nasionale eenheid
# Die VF Plus dring aan op ‘n hersiening van die strafregstelsel
# En krieket: 17 paaltjies val op die eerste dag van die tweede toets tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande
# Die MK-party sê SAUK-kykers en -luisteraars word daagliks vergiftig solank die uitsaaier na die sewende administrasie as ‘n regering van nasionale eenheid verwys. Die Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg het uitspraak voorbehou in MK se poging om die openbare uitsaaier te verbied om dié frase te gebruik. Die party wil hê die hof moet die SAUK se optrede as ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Die MK-party se prokureur, Dali Mpofu, sê die saak handel oor die SAUK se grondwetlike verpligtinge en die regte van dié wat hy dien.
# Die Vryheidsfront Plus versoek ‘n omvattende opknapping van die strafregstelsel en swaarder strawwe vir gewelds- en seksuele misdade. Die oproep volg na die terugtrekking van Marius van der Westhuizen se parool. Hy is in 2011 gevonnis nadat hy sy drie kinders vermoor het. ‘n Woordvoerder van die party, Heloïse Denner, vra vir ‘n hersiening van die paroolstelsel om te verseker dis regverdig en plaas groter waarde op die regte van slagoffers:
# Die Departement van Water en Sanitasie het bekendgemaak munisipaliteite, maatskappye en waterrade skuld sy waterhandel-entiteit meer as 25-miljard-rand. Hierdie skuld het ter sprake gekom gedurende onderhandelings oor watergebruik vir 2025/2026. Ten spyte van pogings is net 13-persent van die skuld vanaf April tot Junie 2024 betaal. Volgens die Departement belemmer die groeiende skuld infrastruktuurbeleggings en kan die gehalte en betroubaarheid van water beïnvloed word. Intussen duur onderhandelings voort om nuwe watertariewe vir die komende jaar vas te stel.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement herinner ouers om hulle graad R- en skooloorplasingsaansoeke vir die 2025-skooljaar voor vandag se sperdatum in te dien. LUR David Maynier sê aansoeke vir graad R moet aanlyn ingedien word en oorplasingsaansoeke vir Graad 2 tot 7 en 9 tot 12 moet in gedrukte kopie by die voorkeurskool of die onderwysdistrikskantoor ingedien word:
# Die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir Menseregte, Volker Türk, sê die sterftesyfer in Gaza wat meer as 40-duisend is, is ʼn skrikwekkende mylpaal vir die wêreld. ʼn Gemiddeld van sowat 130 mense, waaronder vroue en kinders, sterf die afgelope tien maande daagliks in Gaza. Türk sê die situasie word bemoeilik omdat Israel se weermag volgens hom nie oorlogsreëls nakom nie:
# Krieket: Snelbouler Shamar Joseph het vyf paaltjies platgetrek en die Wes-Indies het Suid-Afrika op 160 uitgeboul in hulle eerste beurt op die eerste dag van die tweede toets in Georgetown, Guyana. Dane Piedt en Nandré Burger se vennootskap van 63 op die tiende paaltjie het die Proteas se eerstebeurt-telling laat herstel van 97 vir 9 tot 160 almal uit. In reaksie daarop het Wiaan Mulder vier paaltjies laat kantel en die Wes-Indies in hulle eerste beurt tot 97 vir sewe beperk. Dit laat Suid-Afrika met ʼn voorsprong van 63 lopies teen uitskeityd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-448-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-457-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….