Nuus 07:00
BULLETIN 15 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG werk saam met die sakesektor om belangrike staatskapingsake te vervolg
# Transnet ondersoek ‘n sekerheidstender wat aan Fidelity toegeken is
# En ‘n Afrobarometer-opname toon 56-persent van die jeug in Afrika ondersteun militêre heersers
# Die Nasionale Vervolgingsgesag werk saam met die sakesektor om staatskapingmisdadigers in die hof te vervolg en Suid-Afrika vinniger van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys te verwyder. Die regering hoop die land sal vroeg volgende jaar van die lys verwyder word, maar voor dan moet misdade oor geldwassery en finansiering aan terroriste suksesvol in die hof hanteer word. Anton du Plessis van die NVG sê die vermoë om digitale bewyse te bekom en te ontleed is egter ‘n groot probleem:
# Transnet het ʼn ondersoek begin na ʼn tender wat toegeken is waarna die Fidelity-groep aangestel is as ʼn uitkomsgebaseerde sekerheidsdiensverskaffer. Volgens Fidelity se kontrak moet hy die Noordoos-roete beveilig. Dit is een van vyf kontrakte wat verlede jaar toegeken is om die vyf spoorvrag-roetes te beveilig. Die Afrika-sekerheidskongres bevraagteken die bod-evalueringsproses se integriteit en die tender se toekenning aan Fidelity. Die staatsonderneming sê hy het geen verdraagsaamheid wat samespanning en korrupsie betref nie.
# Die Organisasie Teen Belastingmisbruik sê die Padbestuurskorporasie het die publiek mislei oor waarom dit nie die geldigheid van kaartrybewyse gaan verleng nie. Die ondersoek van die organisasie toon die Korporasie het sy eie navorsing van 2022 geïgnoreer wat die verlenging tot agt jaar aanbeveel maar het eerder sy standpunt met ‘n fiktiewe verslag geregverdig. Volgens ‘n woordvoerder van OUTA, Stefanie Fick, is die Korporasie se regverdiging gebaseer op ongegronde gesondheidsnavorsing met die Departement van Vervoer wat erken so ‘n verslag bestaan nie:
# Die Joburg Crisis Alliance sê die bedanking van Kabelo Gwamanda as Johannesburg se burgemeester beklemtoon die dringende behoefte aan leierskap wat waarlik voorkeur gee aan inwoners se behoeftes. Johannesburg kry môre ʼn nuwe burgemeester en dit sal waarskynlik die huidige burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Dada Morero, wees. Die organisasie se woordvoerder, Julius Kleynhans, sê hulle sal hulle steeds beywer vir deursigtige en doeltreffende regering:
# Die Afrobarometer-opname het bevind 56-persent van jong Afrikane is ten gunste van militêre heersers en glo staatsgrepe vind plaas weens verkose leiers se magsmisbruik. News24 berig slegs 47-persent van mense ouer as 55 voel dieselfde. Die opname toon ook 60-persent van jongmense is ontevrede met demokrasie, en 40-persent glo hulle leiers is korrup. Dit hou verband met onlangse staatsgrepe in die Sahel-streek in Noord-Sentraal-Afrika, waar ontevredenheid met demokrasie algemeen voorkom. Die opname is gedoen onder 53-duisend mense in 39 lande.
# Krieket: Suid-Afrika se ster-speler in vanjaar se Onder 19-Wêreldbekertoernooi, Kwena Maphaka, kan sy senior internasionale debuut maak in die reeks van drie T20’s teen die Windies. Hy het 21 paaltjies geneem tydens die toernooi. Die snelbouler is ingesluit in die groep vir die reeks wat later die maand in die Karibiese Eilande begin, terwyl die 29-jarige veelsydige speler van die Dolphins, Jason Smith, ook die eerste keer opgeroep is. Hy speel vir Durban’s Super Giants in die SA20.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-293-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-451-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….