Nuus 07:00
BULLETIN 14 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu gee kapitalisme die skuld vir stygende werkloosheid
# Die liggaam van die matriekleerder van Greenside High School is gevind
# En die VN vind bewyse van ’n toename in oorlogsmisdade in Mianmar
# Die vakbondfederasie Saftu sê kapitalisme is die rede vir die stygende werkloosheid, met amptelike syfers op 8,3-miljoen en uitgebreide werkloosheid wat op 12,3-miljoen staan. Die federasie sê die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname beklemtoon ernstige jeugwerkloosheidsyfers op 46,6-persent en uitgebreide jeugwerkloosheid op 70-persent. Trevor Shaku van Saftu kritiseer kapitalisme omdat daar nie plaaslik werk geskep is nie:
COSATU beskryf die jongste werkloosheidsyfers intussen as ‘n nasionale wekroep. Die uitgebreide werkloosheidskoers staan op 42,6-persent, in die derde agtereenvolgende maand van werksverliese. Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, vra vir daadwerklike optrede vir inisiatiewe om werk te skep. Hy benadruk die noodsaak van ‘n vreeslose Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring om die krisis doeltreffend aan te spreek:
# Die liggaam van die 18-jarige hoofseun van Greenside High School, Reza Saloojee, is gister in die Vaaldam in Gauteng gevind. Hy het Sondag saam met sy gesin visgevang toe hy in die dam in is om sy besittings wat weggewaai het, uit die water te haal. Volgens berigte het ‘n sterk stroom hom meegesleur en polisieduikers het twee dae lank na hom gesoek. Saloojee se liggaam is sowat 100 meter van die plek waar hy vermoedelik verdrink het, gevind.
# Die premier van die Vrystaat, Maqueen Letsoha-Mathae, en Jagersfontein Developments oorhandig vandag 100 nuwe huise aan inwoners wat in 2022 hul woonplekke in die slikdam-ineenstorting verloor het. Die ineenstorting, wat deur strukturele mislukking veroorsaak is, het nege huise vernietig en 20 beskadig, en plaaslike waterbronne besoedel. ‘n Woordvoerder van Jagersfontein Developments, Billy Bilankulu, beskryf die oorhandiging as ‘n betekenisvolle mylpaal wat hernieude hoop bring vir inwoners wat geraak is.
# Die Verenigde Nasies se Menseregteraad sê hy het heelwat bewyse gekry dat die Mianmar-weermag toenemend wrede oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in dié land pleeg. Die raad het bewyse van meer as 900 bronne ingesamel, wat meer as 400 weergawes van ooggetuies insluit. Tydens ondersoeke is bewyse gevind van marteling, seksuele mishandeling en kindermishandeling deur weermaglede. Die Verenigde Nasies sê niemand word vir enige misdade aanspreeklik gehou nie wat oortreders gerus maak en die kultuur van strafloosheid in die land vererger.
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, is vir die res van die Engelse somer nie beskikbaar nie nadat hy sy linker-dyspier tydens The Hundred geskeur het. Die 33-jarige Stokes sal die reeks van drie toetse teen Sri Lanka wat volgende Woensdag begin, misloop. Die veelsydige speler beplan om gereed te wees vir Engeland se reeks van drie toetse teen Pakistan in Oktober. Onderkaptein Ollie Pope sal die span in die toetsreeks teen Sri Lanka aanvoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-574-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-464-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….