Nuus 07:00
BULLETIN 12 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil antwoorde hê oor die sluiting van meer as vyf-miljoen dossiere sedert 2018
# Daar is kommer oor die salarisrekening van die staatsdiens
# En krieket: Die Proteas se eerste toets teen die Windies eindig gelykop
# Die DA sê hy wil hê die polisie se topamptenare gelei deur minister Senzo Mchunu moet voor die parlementêre portefeulje oor Polisie verskyn. Dit hou verband met meer as 5,4-miljoen dossiere wat sedert die 2018/2019-boekjaar gesluit is weens onvoldoende bewyse of leidrade. Lisa Schickerling van die DA sê die inligting wat Mchunu verskaf het, beklemtoon kommer oor die bestuur van dossiere en die tekort aan kapasiteit en personeel in die polisie se speurdiens:
# Die Sentrum vir Risiko-ontleding sê daar is toenemend gevaar dat fondse van nasionale prioriteite gebruik word om die land se skuld te delg en staatsdienswerkers se salarisse te betaal. Volgens ‘n verslag deur die sentrum beloop Suid-Afrika se salarisrekening vir die openbare sektor jaarliks 721-miljard-rand, wat 30-persent van die land se begroting is. Chris Hattingh van die sentrum sê die salarisrekening plaas groot druk op ʼn reeds sukkelende fiskus. Die huidige tweejaar-ooreenkoms verstryk in April volgende jaar.
# Die Stad Johannesburg sê hy is teleurgesteld oor die minagting-van-die hof-aansoek deur die Sentrum vir Toegepaste Regstudies rakende die implementering van ‘n hofbevel oor die ontwikkeling van nege eiendomme in Zondi, Soweto. Die stad se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê ingevolge die bevel moet die stad die tariewe en belasting van nege eiendomseienaars afskryf, kragtoevoer installeer en grootmaatdienste konnekteer:
# Die LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid in Limpopo, Violet Mathye, sê die regering sal nie enige aktiwiteite duld wat die veiligheid en sekerheid van burgers in gevaar stel nie. Dit volg na die ontdekking van ‘n vermeende militêre vuurwapen-opleidingsfasiliteit in Modimolle in die Waterberg-distriksmunisipaliteit. Die LUR se waarnemende woordvoerder, Phuti Lekganyane, sê Mathye het die Valke en die polisie se vermoë geloof om in te gryp en toe te slaan op die fasiliteit, wat onwettig bedryf is:
# Die Europese Unie se buitelandse beleidshoof, Josep Borrell, het Israel se aanval op ʼn skool en moskee in Gaza waar ontheemde mense skuil, veroordeel. Meer as 80 mense is dood. Borrell sê daar is geen regverdiging vir die aanvalle nie. Hamas noem dit ʼn grusame misdaad wat die situasie vererger. Egipte se buitelandse ministerie sê Israel se doelbewuste doodmaak van Palestyne wys ʼn gebrek aan politieke wil om die oorlog te beëindig. Die Verenigde Koninkryk en Jordanië het ook die aanval veroordeel.
# Krieket: Reën en ʼn indrukwekkende kolfvertoning deur Alick Athanaze het tussen Suid-Afrika en ʼn oorwinning gestaan op die laaste dag van die eerste toets teen die Wes-Indies in Trinidad. Die Proteas het hul tweede beurt op 173 vir drie gesluit verklaar en vir die tuisspan ʼn teiken van 298 gestel. Die 25-jarige Athanaze se 92 lopies is ʼn loopbaan-beste, en sy en Jason Holder se vennootskap van vyf paaltjies en 65 lopies het die wedstryd gelykop laat eindig. Dis sedert Julie verlede jaar die eerste gelykop-toets in 28 wedstryde. Die tweede toets begin Donderdag in Guyana.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-394-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-423-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….