Nuus 07:00
BULLETIN 10 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Olimpiese Spele: ‘n Silwermedalje vir Suid-Afrika in die vier-maal-100-meter-aflos vir mans
# Ramaphosa sê Suid-Afrika is steeds ‘n hoogs ongelyke land
# En, Brasilië se president betreur ‘n vliegtuigongeluk waarin 61 mense in Sao Paulo sterf
# Ons skop af met uitstekende nuus van die Olimpiese Spele: Suid-Afrika vier sy eerste medalje in die mans vier-maal-100-meter-aflos, met die silwer wat ook Akani Simbine se eerste groot medalje-sege van sy loopbaan is. Hy het die span van die vyfde na die tweede plek laat opskuif in die laaste 100-meter van die aflos in ‘n tyd van 8,78-sekondes. Saam met Bayanda Walaza, Shaun Maswanganyi en Bradley Nkoana het Simbine ‘n nuwe Afrika-rekord van 37,57-sekondes in die aflos opgestel. Kanada het goud gewen in 37,50-sekondes met Brittanje derde in 37,61 sekondes. Die silwermedalje is Suid-Afrika se eerste medalje in ‘n groot kompetisie sedert die wêreldkampioenskappe in 2017.
Nog goeie nuus van die Spele: Suid-Afrika se mans vier-maal-400-meter span is terug in vanaand se eindwedloop na ‘n appèl wat gevolg het op ‘n dramatiese uitdun-ronde waarin hule laaste geëindig het. Die Suid-Afrikaners het nou die plek van Nigerië ingeneem wat aanvanklik gewen het, maar wat diskwalifiseer is na ‘n laan-oortreding wat Antonio Nortjé laat struikel en val het. Hy het opgestaan en aanhou hardloop, maar die span het laaste geëindig. Die atletiekspanbestuurder, Jean Verster, sê hulle is dankbaar hulle appèl het geslaag en oorstelp om in vanaand se nege-laan-eindstryd te wees.
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is steeds ‘n hoogs ongelyke land, en wat armoede betref, is swart vroue die meeste blootgestel. Ramaphosa het tydens die regering se herdenking van Nasionale Vrouedag by die Dennis Nel-stadion in Pofadder in die Noord-Kaap gepraat. Die president sê swart vroue is die meeste geneig om werkloos, arm en ongeskool te wees:
Ramaphosa het by dieselfde geleentheid gesê die regering van nasionale eenheid is oor die politieke spektrum heen verenig deur sy gedeelde verbintenis om die lewens van Suid-Afrika se vroue te verbeter. Hy sê om die ekonomie te laat groei en ontwikkeling te versnel moet vroue hulle regmatige plek as aktiewe deelnemers inneem. Die president sê vroue moet sake-eienaars, produsente, werkgewers én werknemers wees:
# En, Braslilië se president, Luiz Inácio Lula da Silva het ‘n minuut se stilte gehou by ‘n byeenkoms waar hy gepraat het, na die nuus dat ‘n vliegtuig met 57 passasiers en vier bemanningslede aan boord, in die staat Sao Paulo neergestort het. Die tweemotorige turbo-prop vliegtuig was van Cascavel in die suide van Brasilië na die hooflughawe in die stad Sau Paulo onderweg toe dit in die dorp Vinhedo neergestort het. Lula da Silva het sy meegevoel met die familie en vriende van die slagoffers betuig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….