Nuus 07:00
BULLETIN 5 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê dit was die regte besluit om die regering van nasionale eenheid te stig
# Die Israelse regering stem om die land se prokureur-generaal af te dank
# En rugby: Die Junior Springbok-ster Batho Hlekani sal volgende jaar vir die Leeus uitdraf
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Uitvoerende Komitee het bevind die besluit om die regering van nasionale eenheid saam te stel, was die regte een. Hy het gister die slotopmerkings gelewer na die driedaagse NUK-vergadering in Gauteng. Ramaphosa sê Suid-Afrikaners waardeer dat die RNE bestendigheid bring en vordering moontlik maak om uitdagings te hanteer. Hy sê die RNE het die ANC in staat gestel om sy agenda vir nasiebou en basiese maatskaplik-ekonomiese hervorming voort te sit:
# Die MK-party sê die Konstitusionele Hof het Suid-Afrikaners in die steek gelaat omdat president Cyril Ramaphosa nie aanspreeklik gehou is vir die oortreding van die Grondwet nie. Die party voer aan die hof het die saak vermy deur dit na die Hooggeregshof te stuur, wat geregtigheid kan vertraag. Die party het ‘n aanmaningsbrief aan Ramaphosa uitgereik waarin gevra word waarom die publiek vir twee ministers van Polisie en die Madlanga-kommissie moet betaal. Die woordvoerder Nhlamulo Ndhlela sê versetoptogte vir Ramaphosa se bedanking sal voortduur.
# Die Federasie vir Staal- en Ingenieursbedrywe van Suider-Afrika het gewaarsku die 30-persent-tarief op Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika sal ‘n ernstige invloed op die metaal- en ingenieursektor hê. ‘n Onlangse opname het getoon 33-persent van ondernemings verwag inkomste- en werkverliese, met van hulle wat op Amerika staatmaak vir tot 20-persent van hul omset. Seifsa se uitvoerende hoof, Tafadzwa Chibanguza, sê die druk word vererger deur indirekte ontwrigtings in die voorsieningsketting, beleggings wat gestaak is en alternatiewe markte wat krimp. Hy bepleit dringende regeringsondersteuning en handelsdiplomasie om mededinging en werksgeleenthede in die bedryf te beskerm.
# Die DA in KwaZulu-Natal sê hy is geskok oor berigte wat die adjunkminister van Arbeid en Indiensneming, Jomo Sibiya, verbind met maatskappye wat geïdentifiseer is as begunstigdes in die omstrede Nasionale Skoolvoedingsprogram van twee-miljard-rand. Die adjunkminister het Sesiphambili Trading in 2008 geregistreer en sy vrou, Simphiwe Sibiya, is tans die direkteur. ‘n DA-woordvoerder, Sakhile Mngadi, sê hierdie krisis kan nie langer as ʼn administratiewe fout beskou word nie en sê dis georganiseerde korrupsie:
# Die Israelse regering het eenparig besluit om die land se prokureur-generaal, Gali Baharav-Miara af te dank. Hierdie besluit sal eers van eers van krag word nadat die Hooggeregshof uitspraak lewer oor griefskrifte teen die afdanking. Die eerste minister, Benjamin Netanyahu, se regering beskuldig haar dat sy haar gesag misbruik om die regering se beleid te ondermyn en Israel se oppergesag van die reg te ontwrig. Baharav-Miara waarsku dat die regering voortaan in staat sal wees om enige prokureur-generaal af te dank sonder enige oorsigmeganismes en selfs om onbehoorlike redes.
# Rugby: Een van die sterre van die Junior Springbokke wat onlangs die Onder-20-wêreldkampioenskap gewen het, die losvoorspeler Batho Hlekani, gaan van volgende seisoen vir die Leeus speel. Hy sal van Durban na Johannesurg verhuis wanneer sy kontrak met die Haaie die einde van die jaar verstryk. Die 20-jarige en sy Junior Bok-spanmaats Cheswill Jooste en Haashim Pead het aangesluit by die oefenkamp van die senior Springbokke in Johannesburg voor die begin van die Rugby-kampioenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-806-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-380-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….