Nuus 07:00
BULLETIN 7 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Toerismesakeraad sê die sektor het verbeter, maar alles is nog nie klopdisselboom nie
# Joe Biden sê die Harris-Walz-vennootskap is ‘n kragtige stem vir werkende mense
# En rugby: Rassie Erasmus bevestig die berigte oor Kolisi se terugkeer na die Haaie
# Die uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika, Tshifhiwa Tshivhenga, is ingenome met verbeterde toerisme. Dit volg nadat die minister van Toerisme, Patricia de Lille, ‘n beroep gedoen het op pogings om die ekonomiese potensiaal van die sektor te benut. Die minister het tydens ‘n inligtingsessie oor toerisme se ekonomiese impak aan belanghebbers in die sektor gesê die teiken vir 2030 is 50-miljoen besoekers. Tshivhenga het beklemtoon die sektor het nog nie op die syfers voor Covid-19 verbeter nie:
# Die African Transformation Movement sê die Openbare Beskermer se kantoor het sy klag van vermeende geldverduistering teen die gewese minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, en gewese voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, na die Spesiale Ondersoekeenheid verwys. Nzimande en Khosa het na bewering gunsloon van die skema se diensverskaffers ontvang. Die ATM sê hulle eis lank reeds deursigtigheid en integriteit in die skema. Hy sê hierdie verwysing is ‘n belangrike stap om die waarheid uit te vind en sê die ondersoekeenheid moet dringend optree.
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie in Gauteng het die gewelddadige gedrag wat Maandag by die Matshidiso Primary School in Katlehong, Ekurhuleni, plaasgevind het, veroordeel. Die omstrede pastoor Paseka Motsoeneng en sy lyfwagte het die skool binnegegaan en ʼn kapmes en vuurwapen rondgeswaai. Hulle het twee minderjariges gewelddadig verwyder. Sadou se provinsiale sekretaris, Tseliso Ledimo, sê geweld het geen plek in skole nie:
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het ingegryp in die oorplasing van die bendeleier van die 28’s-tronkbende, George ‘Geweld’ Thomas, na die Helderstroom-gevangenis. Dit volg nadat gemeenskapsleiers hulle kommer uitgespreek het oor die hoё risiko wat sy teenwoordigheid vir Wes-Kaapse gemeenskappe inhou. Thomas is nou verwys na ‘n alternatiewe maksimum-sekerheid-gevangenis terwyl die Departement van Korrektiewe Dienste die onreëlmatige oorplasing ondersoek. Groenewald het ook met die Cape Crime Crisis Coalition vergader om ingrypings te bespreek om bendeverwante geweld in gemeenskappe wat geraak word, te bespreek.
# President Joe Biden van Amerika sê visepresident Kamala Harris het ʼn goeie keuse gemaak deur die goewerneur van Minnesota, Tim Walz, as haar kandidaat vir visepresident te kies. Voor sy verkiesing in 2018 as Minnesota se goewerneur, was Walz bekend as ʼn ervare Demokraat wat 12 jaar in die Kongres gedien het. Biden sê die Harris-Walz-span sal ʼn sterk stem wees vir werkende mense en Amerika se goeie middelklas. Hy sê hulle sal die land se demokrasie die beste verdedig.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het bevestig onderhandelinge vir kaptein Siya Kolisi se terugkeer na die Haaie is op dreef. Hy is tans by die Franse klub, Racing 92. Kolisi wat vir die Haaie gespeel het, het na verlede jaar se Rugby-Wêreldbeker ʼn ooreenkoms onderteken om vir drie jaar by Racing 92 aan te sluit. Die ooreenkoms het ingesluit dat die Top 14-klub ʼn oordragfooi betaal om hom uit die res van sy kontrak te koop. Erasmus sê dit sal lekker wees as Kolisi weer in die land speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-250-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-385-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….