Nuus 07:00
BULLETIN 6 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Build One South Africa verwerp die oordrag van die waterkrisis aan munisipaliteite
# AfriForum veroordeel politieke inmenging in skole
# En Olimpiese Spele: Lotto-geld het die platsak Span SA in Parys gered
# Build One South Africa het die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, gekritiseer omdat sy die oorsaak van die watervoorsieningskrisis van haar departement na munisipaliteite wil verskuif. Die departement het in hierdie boekjaar 42,6-miljard-rand toegeken om die land se waterbronne te verbeter. BOSA se onderleier, Nobuntu Hlazo-Webster, sê die minister moet ‘n ondersoek begin om vas te stel watter munisipaliteite met waterverspreiding sukkel. Die verspreiding moet dan oorgedra word na bevoegde organisasies sonder winsbejag en privaat diensverskaffers.
# Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het begin met die herstel van sy kritieke IT-diens na die onlangse kuberaanval. Belangrike dienste, wat laboratoriumregistrasie en verwerking van uitslae insluit, word aanlyn infaseer. Gesondheidslui kan nou pasiënte se uitslae op die laboratoriumwebblad sien, wat doeltreffendheid verbeter en agterstande verminder. Die woordvoerder van die laboratorium Mzi Gcukumana sê hulle beveilig hulle IT-bates en hervat volle dienslewering te midde van voortgesette kuberbedreigings:
# AfriForum kritiseer die Departement van Onderwys in Gauteng se ondersoek by die Pretoria High School for Girls, en noem dit ‘n poging om die skool se beheerraad te ondermyn. Bewerings van rassisme het gelei tot ‘n ondersoek, ondanks ‘n tugverhoor wat die twaalf aangeklaagde leerders kwytgeskeld het. Alana Bailey van AfriForum wys op die belangrikheid van skoolbeheerrade en veroordeel politieke inmenging, veral tydens voorbereiding vir matriekeksamens:
# Die DA in die Wes-Kaap sê hy is teleurgesteld dat sy mosie van wantroue in die ANC-speaker van Knysna se munisipale raad, Mncedisi Skosana, misluk het. Elf raadslede het teen die mosie gestem en nege daarvoor. Die DA het versoek dat ʼn geheime stemming plaasvind, maar die waarnemende speaker het raadslede hande laat opsteek. Die DA sê al was die mosie onsuksesvol, is hy tevrede dat daar geleentheid was om die aansienlike mislukking van die huidige koalisieregering uit te lig.
# Die Verenigde Nasies se Hoëkommissaris vir Menseregte, Volker Türk, het sy kommer uitgespreek oor die gevaar dat konflik in die Midde-Ooste kan uitbrei. Iran het beloof om wraak te neem op Israel na die sluipmoord verlede week in Teheran op die Hamas-leier, Ismail Haniyeh. Teheran en Hamas beskuldig Israel van die sluipmoord, maar Israel het nog nie betrokkenheid erken of ontken nie. Die VN-menseregte se woordvoerder, Jeremy Laurence, sê burgerlikes se beskerming moet die hoofprioriteit wees:
# Olimpiese Spele: Die Nasionale Loteryekommissie het na berig word op die nippertjie ingegryp om Suid-Afrika se deelname in Parys te ondersteun. Die span vir die Somerspele het 28-miljoen-rand ontvang en die Paralimpiese span 11,5-miljoen-rand. Onder die streng voorwaardes was dat slegs atlete, afrigters en mediese personeel dit kon ontvang en sportadministrateur of politici se reis- en ander uitgawes nie betaal mag word nie. Volgens Sport24 is die skenking slegs weke voor die begin van die Spele bewillig omdat die beheerliggaam, Sascoc, vorige Loteryskenkings verkwis het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-769-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….