Nuus 07:00
BULLETIN 2 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid neem AfriForum se klag teen die Finansiële Hulpskema oor
# Die VSA sê die gevangene-ruiltransaksie was baie ingewikkeld
# En Olimpiese Spele: Tatjana Smith kondig haar uittrede aan
# Die Spesiale Ondersoekeenheid gaan AfriForum se korrupsieklag teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente ondersoek, waarby die minister van Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, en die gewese raadsvoorsitter van die skema, Ernest Khosa, betrek word. Dit volg nadat ‘n amptelike klagte in Januarie by die Openbare Beskermer ingedien is. AfriForum se veldtogbeampte, Charné Mostert, sê die oordrag van die saak na die SOE is ‘n positiewe stap tot geregtigheid:
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling veroordeel bewerings van rassisme by Pretoria High School for Girls, Table View High en Pinelands High in die Wes-Kaap. Bewerings sluit in afstootlike WhatsApp-boodskappe, die gebruik van rassistiese opmerkings en ‘n slaweveiling-voorval. Die departement is onthuts oor die voorvalle en dring aan op streng dissiplinêre maatreëls. Hulle beoog om rassisme en haatmisdaad deur middel van die nasionale aksieplan te bekamp, in samewerking met betrokke liggame om die kwessies aan te spreek en grondwetlike regte te bevorder.
# Telkom verwelkom die Mededingingskommissie se aanbeveling om, onderhewig aan voorwaardes, die verkoop van 100-persent van Swiftnet goed te keur. Aandeelhouers het die transaksie van 6,75-miljard-rand in Mei goedgekeur. Die transaksie met ‘n infrastruktuurfonds wat bestuur word deur Actis LLP, met Royal Bafokeng Holdings as breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtigingsvennoot, is daarop gemik om die waarde vir aandeelhouers te ontsluit en bedrywighede vaartbelyn te maak. Die uitvoerende hoof, Serame Taukobong, sê dis ‘n stap om ‘n leidende infrastruktuurmaatskappy te word. Reguleringsgoedkeuring van ICASA en die Mededingingstribunaal is hangende.
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê hulle beplan om alle Life Esidimeni-eise teen die einde van die 2025/2026-boekjaar af te handel. Die Hooggeregshof in Pretoria het verlede maand bevind die gewese LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en hoof van die Departement vir Geestesgesondheid, Makgabo Manamela, was nalatig en verantwoordelik vir sommige van die 144 Life Esidimeni- psigiatriese pasiënte se dood. Lesufi sê die provinsiale departement sal die Life Esidimeni-monument bou ter nagedagtenis aan die slagoffers.
# Amerika se nasionale sekerheidsraadgewer, Jake Sullivan, sê hulle het vertroue gehad in die uitruil van gevangenes, maar was versigtig omdat dit ʼn brose en ingewikkelde ooreenkoms was. Sestien individue wat in Rusland aangehou is, is vrygelaat. Dit sluit die Wall Street Journal-verslaggewer, Evan Gershkovich, en Amerikaanse seesoldaat, Paul Whelan, in. Onder die agt wat na Rusland terugkeer, is die sluipmoordenaar Vadim Krasikov, wat sedert 2019 in ʼn Duitse tronk was vir die moord op ʼn Tsjetsjniese uitgewekene in Berlyn. Sullivan sê dit was harde werk om die ooreenkoms te laat slaag:
# Olimpiese Spele: Die swemmer Tatjana Smith het haar uittrede uit dié sport aangekondig. Die 27-jarige kampioen het in Parys goud gewen in die 100 meter-borsslag en silwer in die 200 meter-borsslag. Sy is een van Suid-Afrika se mees bekroonde Olimpiese atlete wat tydens haar loopbaan twee goue en twee silwer medaljes gewen het. Smith sê sy sien uit na dít wat vir haar voorlê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-736-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-447-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….