Nuus 07:00
BULLETIN 1 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste kap terug ná die bewerings van Thabo Bester
# Media24 behou sy joernaliste te midde van die sluiting van sy gedrukte publikasies
# En vyf leerders kom om in ‘n ongeluk in Mpumalanga
# Die Departement van Korrektiewe Dienste ontken bewerings deur die veroordeelde verkragter en moordenaar, Thabo Bester, oor sy behandeling in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria. Bester het in Junie tydens ‘n voorverhoorkonferensie in die Vrystaatse Hooggeregshof onder meer beweer hy is 23 uur per dag in eensame aanhouding en kry nie genoeg tyd om met sy prokureurs te beraadslaag nie. Die departement hou vol Bester se aanhouding voldoen aan alle voorskrifte.
# Media24 sal joernaliste behou van Beeld, City Press, Daily Sun en Rapport, ondanks planne om hulle drukuitgawes te sluit. Die uitvoerende hoof Ishmet Davidson het aangekondig 66 joernaliste sal aansluit by die webblaaie van Netwerk24, News24 en die Daily Sun. Davidson beklemtoon Media24 se toewyding aan die beperking van werksverliese en diens aan die joernalistiek. Die maatskappy sal egter steeds samesprekings hou met ander personeel wat geraak word en verwag ‘n besluit deur die Mededingingskommissie oor die herstrukturering teen Oktober.
# Die polisie in KwaZulu-Natal het sekerheid opgeskerp teen enige openbare betogings nadat die voormalige president Jacob Zuma uit die ANC geskop is. Die party se nasionale tugkomitee het Zuma skuldig bevind aan die skending van die party se integriteit deur saam te werk met die MK-party, en die skending van sy beeld deur MK se leier te word. Die ANC se voorsitter in KwaZulu-Natal Siboniso Duma sê Zuma het die party in die steek gelaat:
# Vyf leerders is dood en elf ander beseer toe hulle bus op die R-104 in Mpumalanga deur ʼn trein getref is. Die bus het volgens berigte die spoorlyn oorgesteek terwyl die trein al te naby was. Daar was blykbaar 30 kinders op die bus. Die provinsiale Departement van Gemeenskap, Veiligheid, Sekuriteit en Skakeling se woordvoerder, Mmusi Moeti, sê die busbestuurder het geringe beserings opgedoen en die treindrywer is nie beseer nie:
# Die uitsaaier Al Jazeera van Katar sê twee van sy joernaliste is dood in ʼn Israelse aanval in die Gaza-strook. Ismail al-Ghoul en sy kameraman Rami al-Rifee is in die Al-Shati-vlugtelingkamp dood toe hulle naby die gesinswoning van Hamas-leier, Ismail Haniyeh wat gister dood is, uitgesaai het. Albei het hul media-baadjies gedra en hulle voertuig was gemerk. Al Jazeera se besturende redakteur, Mohamed Moawad, sê Ismail was bekend vir sy professionalisme en toewyding om die wêreld se aandag op die lyding en wandade in Gaza te vestig.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan is uitgeskakel ná hulle drie-nul-nederlaag teen Spanje. Die vrouespan het met twee-een teen Brittanje verloor. Intussen het die bronswenner van die 2016 Rio-spele, Henri Schoeman, 20ste en James Riddle 25ste klaargemaak in die mans se individuele driekamp wat die Brit, Alex Lee, gewen het. Vicky van der Merwe was 46ste in die vroue-afdeling. In die roei-item het die gouemedalje-wenner van Londen, John Smith, en Christopher Baxter vierde geëindig in hulle halfeindronde terwyl Paige Badenhorst Saterdag sal probeer om ʼn algehele 13de tot 18de plek te kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-123-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-448-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….