Nuus 07:00
BULLETIN 30 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wens Tatjana Smith geluk
# Saftu sê Paul Mashatile se uitlatings oor die privatisering van die SAL is roekeloos
# En Donald Trump stem in om deur die FBI ondervra te word oor die aanslag op sy lewe
# President Cyril Ramaphosa het die swem-ster, Tatjana Smith, en bergfietsryer Alan Hatherly gelukgewens nadat hulle by die Olimpiese Spele in Parys medaljes vir Suid-Afrika gewen het. Smith het die land se eerste goue medalje opgeraap in die 100 meter-borsslag, terwyl Hatherly brons gewen het in die mans se bergfiets-item. Ramaphosa sê hy sien uit na nog skitterende prestasies deur Span Suid-Afrika. Smith sê sy het baie geleer uit die Tokio-spele in 2021 toe sy in dieselfde item silwer gewen het:
# Die vakbondfederasie, Saftu, veroordeel adjunkpresident Paul Mashatile se opmerking dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens aan die privaat sektor verkoop word. Hy het in ‘n onderhoud gesê die regering is nie in die lugvaartbedryf nie, daarom is dit dalk beter om privaat spelers aan boord te bring om die SAL weer winsgewend te maak. Saftu-woordvoerder, Trevor Shaku, sê Mashatile se opmerkings is roekeloos en klink soos iemand wat hom ten koste van die publiek in die privaat sektor gewild wil maak:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor sê Suid-Afrika gaan veranderings aan sy finansiële reëls aanbring, met oor-die-toonbank afgeleide instrumente en ongenoteerde finansiële markbedrywighede as teiken, vir beter ondersoek. Die uitvoerende direkteur Olano Makhubela lê klem op die gebrek aan deursigtigheid in die oor-die-toonbankmark, wat risikobestuur meer ingewikkeld maak. Die owerheid beplan om oorsig te versterk, deursigtigheid te bevorder en markrisiko te verminder. Die nuwe regulasies sluit in die monitering van oor-die-toonbankbedrywighede op verskeie gebiede en die instel van ‘n handelsbewaarplek om afgeleide instrumente na te volg, moontlik voor die einde van die jaar.
# Die VF Plus vra ‘n ondersoek na ‘n voetbrugprojek van 206-miljoen-rand in die Ekurhuleni-metro wat nooit gebou is nie. Rudolf Herbst van die VF Plus sê ‘n verslag van die metro se vervoerkomitee beweer die brug tussen Zonkezizwe en Palmridge is voltooi, maar ‘n oorsigbesoek het net ‘n padteken onthul. Herbst sê daar is net rekenskap gegee van 14,4-miljoen-rand, met 191,6-miljoen-rand wat nie verduidelik is nie. Hy vra die Openbare Rekeningekomitee van die stad om ondersoek in te stel en kwartaalliks die inligting op te dateer om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker.
# Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, het ingestem tot ʼn onderhoud met die FBI ná die sluipmoordpoging op hom vroeër die maand in Pennsilvanië. Die 20-jarige Thomas Matthews Crooks het agt skote met ʼn aanvalsgeweer op hom afgevuur. Trump is gewond, ʼn persoon wat die saamtrek bygewoon het is dood en talle ander is beseer. Die FBI sê hulle wil Trump se mening kry oor dit wat hy waargeneem het. Ondersoekers glo Crooks het die skietvoorval noukeurig beplan en hard probeer om sy optrede te verbloem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-295-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-380-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe studie deur Mailsuite het Google Play Store-beoordelings ontleed van byna een-duisend-500 kommunikasie- en sosialemediatoepassings in alle lande aan die einde van Junie 2024. In Suid-Afrika is Facebook aangewys as die gewildste platform, met gebruik wat van 56,7-persent in 2022 tot 59,6-persent in 2023 gestyg het. TikTok was tweede, met ‘n toename van 30,6-persent tot 34-persent. Instagram-gebruik het effens afgeneem tot 26,9-persent. X en LinkedIn se gebruik was ook minder. Reddit bly ongewild met net vier-persent gebruik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….