Nuus 07:00
BULLETIN 29 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kantoor van die hoofregter sê Mandisa Maya het nie noue bande met Zuma nie
# Antony Blinken blameer Hezbollah vir ‘n dodelike aanval op die Golan-hoogte
# En Olimpiese Spele: Tatjana Smith en Pieter Coetzé beïndruk in die swembad
# Die kantoor van die hoofregter sê berigte dat die aangewese hoofregter, Mandisa Maya, ‘n noue persoonlike en professionele verhouding met oudpresident Jacob Zuma het, is ongegrond en vals. ʼn Artikel wat in die aanvegbare Opera News verskyn het, verklaar dat sy Zuma as ʼn broer vir haar en ʼn pa vir haar kinders beskryf het. President Cyril Ramaphosa het Maya Donderdag as die nuwe hoofregter aangestel en haar termyn begin op een September. Die kantoor sê Maya het Zuma nog nooit ontmoet of enige kontak met hom gehad nie.
# Cosatu sê die nuwe AGOA-ooreenkoms moet bepalings bevat om voldoening aan billike arbeidspraktyke te verseker en werkgewers penaliseer wat arbeidswette oortree. Matthew Parks van Cosatu sê AGOA het beleggings van Amerikaanse maatskappye verhoog, wat 450-duisend direkte en indirekte werksgeleenthede in Suid-Afrika ondersteun. Hy voeg by die land se mynbou-, vervaardiging- en landbousektore trek voordeel uit die groot volumes uitvoere na Amerika:
# Die Stad Kaapstad sê Transnet moet privaat sektor betrokkenheid by hawebedrywighede bespoedig, asook die ontwikkeling en onderhoud van ‘n vloeibare grootmaat-opgaarterminaal by die Tafelbaai-hawe. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die hawe se prestasie raak ‘n verskeidenheid van kritiese produkte – van landbougoedere tot hoë-waarde uitvoere soos wyn en seekos:
# Die ANC doen ’n beroep op inwoners van Kanana-uitbreiding 13 in Noordwes om die polisie te help met enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagtes wat agt mense die naweek by ’n kroeg doodgeskiet het. Die ANC se waarnemende woordvoerder, Zuko Godlimpi, sê die optrede van die verdagtes, wat nie net die lewens van mense geneem het nie, maar ook die kroeg en klante beroof het, is laakbaar en geregtigheid moet vinnig geskied. Die party bly verbind tot samewerking met die wetstoepassingsowerhede om veilige gemeenskappe te verseker en sulke sinlose geweld uit te wis.
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê alles dui daarop dat die Libanese militante groep, Hisbolla, die vuurpyl afgevuur het wat ʼn sokkerveld in die Golan-hoogte getref het. Twaalf mense, insluitend kinders, is in die aanval dood. Hisbolla ontken dat hy betrokke was by die ergste aanval in Israel of Israeli-beheerde gebied sedert Hamas se aanvalle op sewe Oktober. Blinken sê Amerika staan agter Israel teen alle dreigemente deur Iran-ondersteunde groepe, insluitend Hisbolla:
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se swem-ster, Tatjana Smith, is deur na die eindronde van die vroue se 100 meter-borsslag in Parys. Die 27-jarige Smith het met een-minuut-vyf-sekondes die vinnigste tyd in albei halfeindronde-uitdunne behaal wat slegs 0,18 sekondes stadiger is as haar Olimpiese rekord in Tokio. Pieter Coetzé het gelykop tweede geëindig in die mans se 100 meter-rugslag-halfeindronde en is deur na die finaal. Sy tyd van 52,63 sekondes is ʼn nuwe Afrika-rekord. Aimee Canny was sesde in die vroue se 200 meter-vryslag en het ʼn plek in die eindronde verbeur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-617-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-392-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….