Nuus 07:00
BULLETIN 27 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit beweer ‘n hofuitspraak lê die swakhede in die NGV bloot
# Die arrestasie van Mexikaanse dwelmbase in Amerika kan Mexiko se misdaadlandskap verander
# En, die Olimpiese Spele: Die grootste skare ooit woon die rugbysewes by
# Die vakbond Solidariteit sê die onlangse uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria, wat afdelings van die Wet op Nasionale Gesondheid ongrondwetlik verklaar, verswak die wet. Ondanks die minister van Gesondheid Aaron Motsoaledi se ontkenning beweer die vakbond die uitspraak beskerm gesondheidspraktisyns se regte en lê swakhede bloot in die NGV. Theuns du Buisson van Solidariteit wil egter seeds die wet in die hof uitdaag en sê hulle het wye steun van mediese beroepslui:
# Die burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda, vaar uit teen oproepe deur ActionSA en groepe burgerlike organisasies dat hy moet bedank. Die Joburg Crisis Alliance hou vandag ‘n protesaksie om vir sy verwydering te vra. Gwamanda beweer hy word geteiken weens sy agtergrond as ‘n swartman uit Soweto. Hy voer aan kritici het geen dwingende redes verskaf vir sy verwydering nie:
# Die inhegtenisneming van ‘n Mexikaanse dwelmbaas en die seun van voormalige vennoot word beskryf as ‘n reusedeurbraak vir die Amerikaanse owerhede wat Mexiko se misdaadlandskap kan hervorm. Ismael “El Mayo” Zambada en Joaquin Guzman Lopez, die seun van Joaquin “El Chapo” Guzman, staar verskeie aanklagte in die gesig. Ondersoekers vermoed een van hulle het die ander om die bos gelei om aan boord te gaan van ‘n privaat vliegtuig in El Paso, Texas. Zambada en Guzman het in 1987 saam die Sinaloa-kartel gestig. Guzman dien ‘n lewenslange vonnis uit in ‘n Amerikaanse tronk.
# Rugby: Die Junior Springboklosvoorspeler Divan Fuller maak vandag sy senior Westelike Provinsie-debuut in die Curriebekerkragmeting teen die Bulle op Loftus Versfeld. Saam met hom in die opdrafspan is Wandisile Simelane, Sazi Sandi en Lizo Gqoboka, wat almal in die Noord-Suid-botsing terugkeer na beserings. Die enigste ander verandering aan die begin-vyftiental is Courtnall Skosan op vleuel in die plek van die beseerde Jared Africa. Die wedstryd skop vanmiddag om 5:15 af. In gister se wedstryd in Welkom het die Cheetahs die Griffons net-net met 47-45 geklop.
# En, die Olimpiese Spele: ‘n Wêreldrekord is opgestel toe die rugbysewes-aksie dié week afgeskop het. Nege-en-sestig-duisend toeskouers het die Stade de France volgepak, wat dit die grootste skare in die geskiedenis van sewes gemaak het. Die organiseerders sê die sport is een van die gewildste byeenkomste by die Spele, met meer as ‘n halfmiljoen kaartjies wat reeds verkoop is. Die manskompetisie word vandag afgesluit, met Suid-Afrika wat in die halfeindstryd speel teen die gashere, terwyl die verdedigende kampioene Fidji Australië pak, gevolg deur die eindstryd. Die vrouekompetisie begin môre.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….