Nuus 07:00
BULLETIN 26 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Openbare Werke wil vorderingsverslae hê oor die herbou van die Nasionale Vergadering
# Die Parlement se justisiekomitee verwelkom die aanstelling van Mandisa Maya
# En, RISE Mzansi eis dat die polisie-begroting op openbare veiligheid fokus
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê hy het die Ontwikkelingsbank van Suidelike Afrika opdrag gegee om tweeweekliks verslag te doen oor vordering met bouwerk aan die Parlement se Nasionale Vergadering-gebou. Die minister het gister ‘n oorsigbesoek aan die parlementêre perseel gebring waar opruim- en herbouwerk voortgaan ná ʼn brand in 2022. Sowat twee-miljard-rand is vir die projek beskikbaar gestel. Macpherson sê hy wil seker maak die kontrakteurs van hierdie belangrike projek bly binne die begroting en tydsraamwerk:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die aanstelling van Mandisa Maya as die land se nuwe hoofregter verwelkom. Die adjunkhoofregter sal die huidige hoofregter Raymond Zondo, wie se termyn einde Augustus verstryk, opvolg. Maya word die eerste vrou wat aan die hoof van die regbank staan. Die komiteevoorsitter, Xola Nqola, sê hierdie aanstelling is ‘n groot mylpaal vir die land, en sy pogings om geslagsgelykheid en die emansipasie van vroue te bevorder.
# RISE Mzansi doen ‘n beroep op ‘n aanpassing in die polisie-begroting, en vra die fondse moet weggewys word van BBP-beskerming na die verbetering van openbare veiligheid. Die party se koukussweep in die Nasionale Vergadering Makashule Gana kritiseer die vier-miljard-rand wat bestee word aan die beskerming van politici. Gana sê dit moet eerder gebruik word in die stryd teen onwettige vuurwapens en dwelmsmokkelaars, en om die aantal speurders te vermeerder. Hy sê hulle onderneem om vir eers die begroting te steun, maar dring aan op veranderings in die toekoms om openbare veiligheid voorkeur te gee bo politieke sekerheid.
# Die Stad Johannesburg sê oproepe dat die nuwe R200-bybetaling op voorafbetaalde-elektrisiteitsmeters hersien word, het nie op dowe ore geval nie. City Power het sy klante sedert die eerste van die maand ʼn maandelikse diens- en netwerkkapasiteitsfooi gevra. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Dada Morero, sê die regering van plaaslike eenheid sal die fooi heroorweeg. Hy sê daar moet ʼn balans wees tussen dié wat vir elektrisiteit kan betaal en diegene wat sukkel om te betaal.
# President Cyril Ramaphosa het diepe medelye en simpatie uitgespreek na die onlangse grondstortings in Gofa in die suid-weste van Ethiopië, wat minstens 250 lewens geëis het. Die presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa het solidariteit uitgespreek met die mense van Ethiopië en families in rou, en het verwys na die sterk geskiedkundige betrekkinge tussen Suid-Afrika en Ethiopië wat terugdateer na die stryd teen apartheid:
# Krieket: Die Proteas moet gou by toetskrieket aanpas wanneer hulle volgende maand na die Karibiese Eilande reis vir twee wedstryde teen die Windies. Die meeste spelers het laas in Desember toetskrieket teen Indië gespeel en ‘n verswakte groep het in Februarie twee toetse in Nieu-Seeland gespeel aangesien gekontrakteerde spelers by die SA20 betrokke was. Toetsafrigter Shukri Conrad beskryf die gebrek aan toetsgeleenthede aan die werklikheid van die moderne spel wat oorheers word deur witbal-krieket:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-516-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-471-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….